SA se Lefèbre laat Londen-span glimlag

Lefébre Rademan. Foto: Twitter.

Suid-Afrikaanse netbalspelers is besig om amok by verskeie internasionale netbaltoernooie te maak.

Die Proteas se Lefèbre Rademan en Sigi Burger het vir ’n doelefees in Engeland gesorg en hulle was gesamentlik vir 41 van die London Pulse se 51 doele teen die Celtic Dragons verantwoordelik.

Die kersie op die koek was toe die jong Rademan – wat met 22 doelpogings suksesvol was – as die speler van die wedstryd aangewys is.

Tog het die 24-jarige Riversdal-boorling nie altyd die doelbeffie oor haar kop getrek nie – sy is op skool eerder as ’n hulpverdediger ingespan.

“In graad 11 en 12 (daar by Hoërskool Langenhoven) het ek meer begin senter speel omdat ek skielik te kort vir ’n verdediger was. In my eerste jaar op universiteit in Bloemfontein het ek as ’n hulpdoel begin oefen. Maar ek was nog altyd lief vir hierdie posisie; selfs op skool,” het sy destyds aan Maroela Media gesê.

In Australië se taai Suncorp-liga het Karla Pretorius en Phumza Maweni se Sunshine Coast Lightning-span Shadine van der Merwe en Lenize Potgieter se Adelaide Thunderbirds met een doel geklop.

Die eindtelling was 59 – 58 in die Lightning se guns, terwyl Potgieter vir 34 van die Thunderbirds se doele verantwoordelik was.

Die Lightning – wat deur Pretorius aangevoer word – is tans tweede op die punteleer.

“As speler het Karla ’n uitstekende paar jaar agter die blad, maar ek het terselfdertyd ook gesien hoe sy as leier ontwikkel. Almal respekteer haar en sy verdien ongetwyfeld die kapteinskap, het Kylee Byrne, Lightning-afrigter, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.