Sakkari en Swiatek kruis eindstrydrakette

Griekeland se Maria Sakkari speel Sondag in die eindstryd van die Indian Wells-toernooi teen Iga Swiatek. (Foto: Clive Brunskill/Getty Images North America/AFP)

Maria Sakkari het haar atletiese vaardighede op die tennisbaan uitgestal toe sy vir Coco Gauff met 6-4, 6-7 en 6-2 in die halfeindstryd van die Indian Wells-toernooi geklop het.

Die Griek sal Sondag in die eindstryd teen Iga Swiatek – die wêreld se voorste speler – te staan kom.

Dié eindstryddraaiboek het al vantevore afgespeel toe die Poolse ster die silwerware in 2022 omhoog gehou het nadat sy die wedstryd met 6-4 en 6-1 beklink het.

Sakkari se tennis is egter op ʼn opwaartse kurwe. Die Gauff-triomf is haar eerste oorwinning in vyf probeerslae teen ʼn teenstander wat onder die toptienspelers wêreldwyd tel.

“Mense sê gereeld dat dinge binne ʼn oogwink op ʼn tennisbaan kan verander. Skaars ʼn maand gelede was ek in Abu Dhabi waar ek kwalik die bal oor die net kon slaan, nou speel ek in die eindstryd van een van die grootste toernooie,” het Sakkari gesê.

Volgens die 28-jarige speler is dit belangrik om te aanvaar dat dinge nie altyd volgens plan sal verloop nie; die son skyn immers altyd weer een of ander tyd op die baan.

Sakkari het juis sterk gestaan om Gauff se terugvegpoging af te weer en sy hoop om met ʼn soortgelyke ingesteldheid teen Swiatek te speel.

“Die senuwees het met tye baie gepla – ek het dalk te veel aan die uiteinde van die wedstryd gedink eerder as om op die volgende punt te konsentreer. Maar ek is trots op myself dat ek nie onder die druk gevou het nie en goed in die derde stel vertoon het.”

In die mansafdeling speel Jannik Sinner laat vanaand (plaaslike tennisliefhebbers kan van so 22:30 voor die kassie inskuif) teen Carlos Alcaraz in een van die lokettreffer-halfeindstryde, terwyl Daniil Medvedev teen Tommy Paul in aksie is.

Uitslae:

Maria Sakkari klop Coco Gauff met 6-4, 6-7 en 6-2

Iga Swiatek klop Marta Kostyuk met 6-2 en 6-1

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.