Sani2c bied ʼn ware bergfietsparadys

Deur Terésa Coetzee

Daar is min gesoute bergfietsryers wat nie met minstens één sani2c-medalje in hul versameling kan spog nie en tog bly hierdie marathon een van die gewildstes waarheen fietsryers jaar ná jaar weer terugkeer.

Ek ken die sani2c-roete baie goed omdat ek sedert 2014 elke jaar aan die joberg2C-marathon deelgeneem het (die negedag-Joberg2C het altyd met die laaste drie dae van die sani2c-roete afgesluit), en vanjaar was dit my tweede volwaardige sani2c waarvoor ek ingeskryf het.

Vir baie van my fietsryvriende is die sani2c byna ʼn jaarlikse instelling en dis amper vanselfsprekend dat hulle dit volgende jaar weer gaan ry. En die jaar daarna weer … En ek verstaan dit heeltemal, want hierdie byeenkoms bevat werklik al die bestanddele vir ʼn wenresep – van asemrowende mooi roetes, kilometers en kilometers gemanikuurde enkelspoorpaadjies, baie gerieflike en goeddeurdagte tentdorpies waar die ryers ná elke skof kan uitspan, meer as genoeg silwerskoon storte en toilette, onbeperkte voorrade heerlike kos, genoeg waterpunte wat goed beman is en ʼn heerlike atmosfeer. Wanneer jy inskryf, kan jy maar weet dat jy vir drie dae in die bergfietshemel gaan wees.

Danksy die gewildheid van hierdie ren is daar elke jaar twee verskillende sani2c-byeenkomste waaraan jy kan deelneem. Omdat die Adventure se getalle vinnig vol was, het ons span vir die Race ingeskryf. Natuurlik is daar die veronderstelling dat almal wat aan die Race deelneem professionele en semi-professionele ryers is, maar dit is glad nie die geval nie. Eintlik was die meerderheid van die deelnemers tydens die Race ook maar net doodgewone avontuursoekers soos die meeste ryers van die Adventure. Ek het talle van my fietsryvriende op die Race raakgeloop en die atmosfeer tydens elke skof en daarna was uiters jolig en plesierig. Die enigste verskil is dat jy wel soms skouers kan skuur met professionele ryers en ek het byvoorbeeld heerlik gekuier met die dierbare Sarah Hill wat net so ʼn paar tente van myne af gebly het.

Kuier in die berge

(Foto: Rory Scheffer.)

Op Woensdag 26 April, laatmiddag, het ons by die Glencairn-plaas net anderkant Underberg aangekom, net betyds vir die “race briefing” en daarna kon ons span registreer, waar ons elkeen ʼn pragtige geskenkpak saam met registrasie gekry het. En laat niemand vir jou anders vertel nie – mense steur hulle wel aan “goodie bags” en die sani2c het ʼn behóórlike een! My dik omkeerbare Salamon-baadjie is nou my gunsteling in my kas, en elke ryer het ook ʼn ligte windbrekerbaadjie en ʼn T-hemp gekry saam met ʼn Restonic-skuimkussing wat perfek is vir kamp.

Donderdagoggend het ons almal by Glencairn weggespring en die skof van 82 km het begin. Vir meer perfekte weer kon ons nie vra nie en die paaie was lekker ingery deur ons voorgangers van die Adventure. Natuurlik is van die hoogtepunte die PG Bison- drywende brug so op 36 km en al het ek gelukkig nog elke keer ʼn swem-met-fiets vrygespring, bly ek maar versigtig vir dié bruggie en is ek ewe verlig as ek droog anderkant aankom. Die bospaadjies was presies soos ek dit onthou: vinnig, vloeiend en soms verbeel mens jou regtig dat Farmer Glen en sy manne daar met besempies gestaan en skoonvee het. Die algehele klim vir die skof is 1 175 m, terwyl die afdraande vir die dag 1 475 m is.

My spanmaat vanjaar was my vriendin Melinda se man, Stephan, en ons het vooraf besluit om twee ondersteunerspakkette vir Melinda en my man, Fredel, te koop sodat hulle saam met ons kon kuier, al het hulle nie self fietsgery nie. Dit was een van die beste besluite ooit, want hulle was deurentyd deel van die lekker atmosfeer en heerlike etes. Op dag een het hulle twee Sani-pas toe gery vir ʼn kouetjie by die kroegie bo-op die pas, terwyl ons die roete Mackenzie Club toe gery het.

Umkomaas!

Daar is min bergfietsbyeenkomste in die land waaraan ek nog nie deelgeneem het nie, van die Epic regdeur tot van die kleiner byeenkomste en laat ek dit maar sê, dag 2 van die sani2c sal altyd vir my uitstaan as een van die ongelooflikste dae wat mens op ʼn fiets kan ervaar. As jy nog nie by die Umko-drop afgery het nie, sal jy nie weet waarvan ek praat nie en ek dink nie mens kan ooit moeg raak vir hierdie asemrowende mooi roete nie. Terwyl jy by die majestueuse vallei afseil met jou fiets, ontvou die mees skouspelagtige tonele om jou waar die rivier onder in die vallei kronkel. Dis vinnig, maar weereens vloeiend en seker een van die langste enkelspoorafdraandes wat jy in jou lewe sal ry.

(Foto: Rory Scheffer.)

Die eerste 20 km van die tweede skof vlieg verby en ʼn mens is eintlik jammer sodra jy besef dis amper verby, want dit is regtig net so besonders. Dan, van so 50 km af, begin die sports as mens die groot klim van die dag, die Iconic, betree.

Ek het al pertinent vir Farmer Glen gesê dat die Unitrans Iconic-klim glad nie my ding is nie, maar hy hou vol dat die ren darem een groot uitdaging móét hê en dis die Iconic wat maak dat jy daai medalje aan die einde net soveel meer waardeer. Hy is seker maar reg (maar dit beteken steeds nie dat ek daarvan hou om vir amper 3 km met my fiets te stap nie).

Die tweede skof is hard en lank, met ʼn algehele afstand van 97 km, 1 485 m klim en 1 855 m afdraande. Dit was laat en ons was moeg toe ons uiteindelik by die Jolivet-plaas aangekom het – gelukkig het die groot stukke steak vir aandete gehelp om ons kragte te herwin!

See toe

Die derde skof is sonder twyfel die vinnigste en maklikste van die drie dae, hoewel mens ook nie die uitwerking van die vorige twee dae se ry aan jou bene moet onderskat nie. Die organiseerders het besluit om die dinamika so bietjie te verander en op hierdie dag spring die professionele ryers heel laaste (eers tienuur) weg. ʼn Mens is deurentyd half bang dat die kampioene jou dalk van agter af gaan vang.

Van my gunstelingdele op die roete is natuurlik die Vernon Crookes-natuurreservaat en die steil, tegniese klim genaamd Work to be Done is steeds net so moeilik soos ek dit onthou. Buiten Stephan, my spanmaat, het die meeste mense om ons dit gelukkig saam met my uitgeloop.

Dag 3 se afstand is 86 km met darem heelwat minder klim (786 m). Die Boer het darem nie heeltemal gejok toe hy gesê het dis amper al die pad afdraande see toe nie (1 390 m afdraande).

Ons het gelukkig voor die wenners by die eindpunt aangekom en dit was beslis ʼn hoogtepunt om te sien hoe Matt Beers en Tristan Nortjé teen Marco Joubert en Wessel Botha met ʼn naelren by die Scottburgh-gholfklub ingejaag kom.

Dit was net so lekker om die vrouewenners Kim le Court en Sam Sanders in hul volle glorie te beleef.

Die datums vir volgende jaar se byeenkomste is reeds bekendgemaak en ja, ek het reeds ingeskryf vir volgende jaar se ren ook, want daar is eenvoudig net so baie redes waarom die KAP sani2c-bergfietsmarathon een vir die boeke is.

Die datums vir volgende jaar se byeenkomste is soos volg:

Die Adventure: 24–26 April 2024

Die Race: 25–27 April 2024

Inskrywings open 1 Julie, besoek www.sani2c.co.za vir meer inligting.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.