Sportsterre verruil sokkerbal vir speletjie-kontrole

Jason Remeseiro maak gereed vir aksie. Foto: Twitter.

Met Covid-19 wat sportwedstryde tans op die veld bemoeilik, het sokkerspelers in Spanje hulself tot die sitkamer gewend waar hulle mekaar in FIFA20-kragmetings voor die televisieskerm die stryd aansê.

Meer as 60 000 ondersteuners het ingeskakel toe Borja Iglesias en Sergio Reguilon van Real Betis en Sevilla mekaar op die virtuele veld die stryd aangesê het.

Iglesias het gesorg dat Real Betis dié tweestryd met 6 – 5 gewen het.

La Liga is tot 4 April afgelas en die hele Spanje is vir 15 dae in afsondering. Nou sal die 20 beste klubs in Spanje – Real Madrid en Barcelona inkluis – mekaar in ’n aanlyn toernooi die stryd aansê.

Die “wedstryde” sal oor die naweek gespeel word en moet ook nie dink dat die adrenalien nie deur die spelers se are sal bruis nie.

“Sokkerspelers speel deesdae meer FIFA as ooit vantevore. Hulle wil altyd wen, want hulle is ongelooflik kompeterend. Ek weet dat die komende toernooi baie baie vir hulle en hul ondersteuners sal beteken,” het Ibai Llanos (organiseerder) gesê.

Die toernooi sal op Llano’s se Twitch-kanaal uitgesaai word en die geld wat ingesamel word, sal geskenk word om Covid-19 te beveg.

  • Spelers wat gaan deelneem:

Sergi Roberto (Barcelona), Marco Asensio (Real Madrid), Sergio Reguilon (Sevilla), Adnan Januzaj (Real Sociedad), Jason (Getafe), Marcos Llorente (Atletico Madrid), Carlos Soler (Valencia), Manu Morlanes (Villarreal), Jose Antonio Martinez (Granada), Gorka Guruzeta (Athletic Bilbao), Ruben Garcia (Osasuna), Carlos Clerc (Levante), Lucas Perez (Alaves), Pedro Porro (Valladolid), Edu Exposito (Eibar), Kevin Vazquez (Celta Vigo), Alejandro Pozo (Mallorca), Aitor Ruibal (Leganes) en Adri Embarba (Espanyol).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.