‘Stillknocks’ kry nuwe teenstander

Dricus “Stillknocks” du Plessis. Foto: Twitter.

Suid-Afrika se Dricus “Stillknocks” du Plessis sal nou op 9 April teen Anthony Hernandez in Jacksonville te staan kom.

Die gewilde gemengdegevegskuns-atleet se aanvanklike UFC273-teenstander, Chris Curtis van die VSA, moes noodgedwonge weens ’n gewrigbesering aan die geveg onttrek.

Tog lyk dit nie of die jongste verwikkelinge veel vir Du Plessis pla nie. Hy is immers bekend vir sy uitstekende voorbereidingswerk.

“Dit maak nie saak wie my teenstander is nie; die uiteinde van die geveg sal dieselfde bly. Op 9 April sal ek oudergewoonte weer met ’n topvertoning vorendag kom,” het die Suid-Afrikaner op sosiale media gesê.

Du Plessis het onlangs ’n kontrak van twee jaar met Ultimate Fighting Championships onderteken nadat hy sy buiging teen Markus Perez in Abu Dhabi gemaak het.

Hy het terstond vir Perez planke toe gestuur, waarna Trevin Giles ’n rukkie later in Las Vegas ook sleg tweede gekom het.

Op sy beurt was Hernandez vroeër deel van Dana White (UFC-baas) se Contender-reeks waar hy vir Jordan Wright binne 40 sekondes ore aangesit het.

Sy feesvieringe is egter kortgeknip nadat hy positief vir dagga getoets het. Die 28-jarige Amerikaner was daarna vir ses maande geskors.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chantel ·

Sterkte met die voorbereiding, moet asb net nie dink dis in die sakkie, alvorens jy daar ingeklim het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.