Swede breek Banyana-harte

Amanda Ilestedt en Swede vier die wendoel teen Banyana Banyana. (Foto: Marty Melville/AFP)

Swede se vrouesokkerspan het vandag vir Banyana Banyana met 2-1 in die twee spanne se openingswedstryd van die Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland geklop.

Die Europeërs, wat aansienlik meer balbesit (69% teenoor 31%) geniet het, moes tot die 90ste minuut wag om die wedstryd te beklink toe Amanda Ilestedt hooggerank het om die wendoel aan te teken.

Die Suid-Afrikaners het danksy Hildah Magaia vir die openingsdoel van die kragmeting gesorg, maar die Sweedse span is ongetwyfeld ʼn goedgeoliede masjien en die spelers se flinke voetwerk – hulle het die bal 548 keer tussen mekaar rondgestuur – was uiteindelik een te veel vir die Banyana-verdedigers.

Refiloe Jane se span verdien egter ʼn klop op die skouer vir die wyse waarop hulle moedig in deurdringende reën probeer het om die een aanval na die ander van hul doelhok weg te hou.

Swede is die derde beste span op die internasionale ranglys, terwyl die Suid-Afrikaners die 54ste plek beklee.

Banyana Banyana moet nou hul volgende wedstryd teen Argentinië wen as hulle nog van ʼn plek in die volgende ronde van die toernooi droom.

Doelskieters:

Banyana Banyana: Hildah Magaia (48ste minuut)

Swede: Fridolina Rolfo (65ste minuut) en Amanda Ilestedt (90ste minuut)

Banyana Banyana-span: Kaylin Swart (doelwagter), Lebohang Ramalepe, Bambanani Mbane, Bongeka Gamede, Sibulele Holweni, Refiloe Jane (kaptein), Kholosa Biyana, Linda Mothlalo, Jermaine Seoposenwe, Hildah Magaia en Thembi Kgatlana.

Komende wedstryde:

28 Julie: Suid-Afrika teen Argentinië in Dunedin

2 Augustus: Suid-Afrika teen Italië in Wellington

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Casper ·

Hoekom is ek nie verbaas nie.Hulle stel mos geld bo trots en lojaliteit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.