Swem: Goue Tatjana kan medaljekas verder laat bult

Tatjana Schoenmaker (Foto: Oli Scarff/AFP)

Wanneer daar oor Suid-Afrika se beste vroueswemmers van alle tye gesels word, is Joan Harrison, Karen Muir, Ann Fairlie en Penny Heyns altyd ter sprake.

Maar wat dan van Tatjana Schoenmaker, want waar pas sy in?

Die 26-jarige Schoenmaker hoort beslis ook op daardie lysie, want Suid-Afrikaanse ondersteuners besef nie werklik hoe goed die huidige goue meisie van Suid-Afrikaanse swem is nie.

Schoenmaker is aan die einde van verlede jaar met Joel Smith, die broer van Siya Kolisi se vrou, Rachel, getroud. Maar dit het geen invloed op haar voorbereiding en drome nie, want Schoenmaker-Smith kan geskiedenis maak deur ʼn medalje op die Wêreldkampioenskapstoernooi in Doha in Februarie en later vanjaar by die Olimpiese Spele in Frankryk te wen.

Dit is die eerste keer dat dié twee byeenkomste in dieselfde jaar aangebied word en wees maar verseker dat die rekords sal spat.

Schoenmaker-Smith het sedert 2018 nog elke keer medaljes op belangrike byeenkomste soos die Wêreldkampioenskapstoernooi, Statebondspele of Olimpiese Spele gewen.

Dit sluit in ʼn goue medalje in die 200 m-borsslag en ʼn silwermedalje in die 100 m-borsslag op die Olimpiese Spele in 2020 in Tokio.

Sy het ʼn goue medalje op die Wêreldkampioenskapstoernooi in Fukuoka in Japan in die 200 m-borsslag gewen en dit met ʼn silwermedalje in die 100 m-borsslag opgevolg.

Sy het in 2019 in Gwangju ʼn silwermedalje in die 200 m-borsslag gewen.

En wat nog van haar drie goue medaljes en ʼn silwermedalje op die Statebondspele in 2018 in die Goudkus in Australië en in 2022 in Birmingham in Engeland?

Die groot vraag is hoe haar peil daar uitsien en of sy vanjaar haar medaljeoes kan vergroot.

Beslis, want in Desember verlede jaar, slegs ʼn paar weke ná haar troue, het sy die 200 m-borsslag op die Wêreldswemproewe in Durban in ʼn tyd van 2:20.30 gewen.

Dit is haar vinnigste tyd sedert die Olimpiese Spele in 2020 in Tokio en die derde vinnigste vanjaar.

Haar jare lange afrigter by Tuks, Rocco Meiring, wil geen voorspelling waag nie en sê alles word deur harde werk bereik.

Schoenmaker-Smith is uitgeknip daarvoor en sy verdien dit om voor in die ry te staan.

Bron: Wikipedia

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.