Swem: Le Clos mik na tweede goue medalje

Chad Le Clos (Foto: Oli Scarff / AFP)

Die strydros Chad le Clos dra steeds die mantel van Suid-Afrikaanse swem.

Nadat die 30-jarige Le Clos Donderdag die goue medalje in die 200 meter-vlinderslag op die Wêreldkortbad-byeenkoms in Melbourne gewen het, het hy Saterdag op die voorlaaste dag die vinnigste tyd in die halfeindronde van die 100-vlinderslag aangeteken.

Hy spring saam met die Italianer Matteo Rivolta as gunstelinge weg in Sondag se eindronde.

Le Clos het nie net vir Rivolta in die halfeindronde uitgestof nie, maar hy het ook die vinnigste tyd van 48.98 aangeteken. Hy was die enigste swemmer wat onder 49 sekondes kon draai.

Rivolta was tweede in Le Clos se halfeindronde (49.07) en Ilay Kharun van Kanada derde (49.72).

In die ander halfeindronde was Noe Ponti van Switserland baas (49.07) met Marius Kusch van Duitsland tweede (49.20) en Matthew Temple van Australië (49.73) derde.

Le Clos se prestasies is ongelooflik, want hy het reeds 262 medaljes (169 goud, 70 silwer en 23 brons) in sy loopbaan gewen sedert hy in 2007 sy eerste goue medalje gewen het.

Daar was nog groot vreugde vir Suid-Afrika toe die 19-jarige Matthew Sates ʼn bronsmedalje in die 400 individuele wisselslag verower het. Sates het reeds vroeër op die byeenkoms die goue medalje in die 200 individuele wisselslag gewen.

Saterdag se resies is deur die Japanner Dayi Seto in ʼn tyd van 3:55.75 gewen.

Die Amerikaner Carson Foster was tweede in 3:57.63 met Sates derde in 3:59.21.

In die 50 meter-borsslag vir vroue het Lara van Niekerk derde in die tweede halfeindronde geëindig vir Sondag se eindronde. Haar tyd van 29.27 is ʼn nuwe Afrika-rekord.

Ruta Meilutyte van Litaue was eerste in ʼn tyd van 28.37, wat die wêreldrekord laat spat het.

Lilly King van Amerika was tweede (28.86).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.