Tatjana praat oor haar Olimpiese drome

Tatjana Schoenmaker. Foto: Reg Caldecott.

Tatjana Schoenmaker, Suid-Afrika se jong swemsensasie, het gemengde gevoelens oor die Olimpiese Spele wat tot volgende jaar uitgestel is.

Die wêreld se grootste sportskouspel sou vanjaar in Julie plaasgevind het, maar die organiseerders en Japan se eerste minister het verlede week in ’n gesamentlike verklaring gesê dat die Spele weens Covid-19 eerder in 2021 gehou sal word.

“Dit is ’n besluit wat gemaak moes word omdat mense se lewens weens die pandemie in gevaar is. Maar vanuit ’n atleet se oogpunt is dit hartseer dat die skouspel uitgestel is,” het Schoenmaker gesê.

“Vir 15 jaar het ek daarvan gedroom om by die Olimpiese Spele in aksie te wees en 2020 sou uiteindelik die jaar gewees het. Maar aan die anderkant, gaan ’n jaar werklik só ’n groot verskil maak? Dit gee vir my eintlik meer tyd om aan my vaardighede te skaaf, terwyl my ondersteuningspan fantasties is; om ’n jaar langer te wag is eintlik voordelig.”

Volgens Schoenmaker was die afgelope paar weke in die aanloop tot die organiseerders se besluit ’n senutergende tyd vir al die atlete; juis omdat hulle nie presies geweet het of die Spele nog sou voortgaan of nie.

Met Suid-Afrika wat tans in die vierde dag van afsondering is, is dit haar wens dat almal gesond en veilig in hierdie onsekere tye sal bly.

Schoemanker was verlede jaar die eerste Suid-Afrikaanse vroueswemmer om ’n medalje by die Wêreldlangbad-kampioenskap los te swem, toe sy die silwer medalje in die 200 m-borsslagitem verower het.

Dié Tukkie-swemmer het boonop twee goue medaljes by die Wêreld-studentespele in Napels verower, terwyl sy as Suid-Afrika se sportvrou van die jaar vir 2019 aangewys is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.