Tennis: AZ is die nuwe goue seun van tennis

Alexander Zverev. Foto: AP Photo/Tim Ireland

Alexander Zverev van Duitsland het onomwonde bewys dat hy die nuwe wêreldster van manstennis is deur met beide Roger Federer en Novak Djokovic in twee dae af te reken.

Die 21-jarige Zverev het Saterdag by die ATP se toerfinaal in Londen vir Federer in die halfeind met 7-5, 7-6 (5) geklop en Sondag in die eindstryd klaar gespeel met Djokovic deur met 6-4 en 6-3 te seëvier.

Djokovic het in die negende pot van die eerste stel die bal teen die net vasgeslaan wat aan Zverev die voortou gegee het. Zverev het die eerste stel met drie kis-afslane verseël en nooit weer teruggekyk nie.

Zverev het vroeg in die tweede stel weer Djokovic se afslaan gebreek wat hom op die voorvoet gehou het. Alhoewel Djokovic teruggebreek het, het hy ʼn dubbelfout in sy volgende pot begaan om weer die voorsprong aan Zverev te gee.

Zverev het in die negende pot weer deurgebreek op Djokovic se afslaan om die wedstryd en ook die toernooi syne te maak.

In die eindstryd van die dubbelspel het (5) Mike Bryan en Jack Sock vir (8) Pierre-Hugues Herbert en Nicolas Mahut met 5-7, 6-1 en 13-11 geklop.

Alle oë is nou op die Australiese Ope wat in Januarie in Melbourne gespeel word.

Meer inligting is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

nico k ·

Dis seker hoog tyd dat iemand die ou manne begin wen. Federer kon sy pa gewees het. Dis tragies dat daar in al die jare nie nuwe sterre na vore kon tree nie.

Ondersteuner ·

Federer het net gewoon gewys watter kwaliteit sportman hy is. Nie tragies nie – ‘n inspirasie vir alle mense!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.