Trilogie van gevegte eindig rampspoedig vir Conor

Foto: Stacy Revere/Getty Images/AFP.

Die gevegstrilogie tussen Conor McGregor en Dustin Poirier het op die slegste wyse denkbaar vir die veglustige Ier geëindig.

Mediese personeel het die geveg ná die eerste ronde beëindig met McGregor wat oënskynlik ’n ernstige beenbesering opgedoen het. Hy is later per draagbaar uit die hok gedra.

Tog was die 32-jarige gemengdegevegskuns-atleet gereed vir aksie toe die ronde begin het en hy het aggressief weggetrek. Later het hy vir Poirier in ’n guillotine-greep beetgekry, maar die Amerikaner het stelselmatig die oorhand begin kry.

Net vóór die einde van die ronde het ’n bebloede McGregor met ’n wilde vuishou losgetrek, maar sy been het meegegee en hy het in ’n hopie op die hokvloer beland.

Volgens Dana White (UFC-baas) het die Ier die “laer tibia van sy linkerbeen” gebreek en hy sal vandag nog geopereer word.

Dit is McGregor se tweede agtereenvolgende nederlaag teen Poirier nadat die Amerikaner hom in Januarie binne 60 sekondes uitgeslaan het. Sy voorspelling dat die trots van Louisiana die Las Vegas-arena op ’n draagbaar gaan verlaat, het uiteindelik lelik skeefgeloop.

Volgens Poirier is die skade aan sy teenstander se been reeds vroeg in die geveg aangerig en daardie wilde vuishou was bloot die laaste opdraand wat die perd stokflou laat neerval het.

“Hy het vooraf gesê dat hy my gaan vermoor, dat ek in ’n kis gaan beland. ’n Mens praat nie so van ander nie en ek hoop dat hy veilig by sy pragtige gesin uitkom,” het Poirier gesê.

Foto: Stacy Revere/Getty Images/AFP.

Maar selfs met sy beenbreuk was McGregor die veglustigheid vanself en hy het beloof dat sy vete met Poirier nog lank nie verby is nie.

“Dít is nie verby nie,” het die wêreld se rykste sportman gesê. Die Ier is vroeër deur Forbes as die hoogs betaalde sportster aangewys; hy het na raming ’n ongelooflike $180 miljoen in sy sak gesteek.

Ontleders meen ook dat McGregor nie iemand is wat van ongedane sake hou nie.

“Conor is eerstens ’n vegter. Ondanks al die ander dinge wat aangaan, sal hy wil baklei. Hy gaan nie toelaat dat dinge op hierdie wyse vir hom eindig nie; hy sal terug wees,” het die Walliese hokvegter, Jack Shore, gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

MakersMark ·

Beste resultaat. Coenie Macgregor vir almal wyd en syd vertel Poirier gaan die octagon op ‘n stretcher verlaat……toe vertrek hy op die wit kateltjie……goed gedien Dustin Poirier.

koos10 ·

Is dit nie dieselfde ou wat gesê het dat jy Jesus sal wen in ‘n geveg nie? Ironies né!

Vonkprop ·

Was nogal lagwekkend om te sien hoe hy by die arena opdaag met sy duur karretjie, blou ontwerpers-pakkie en donker brilletjies met ‘n wieg in sy wintie loop wat ‘n pikkewyn sal skaam maak en toe hou hy nie eens twee rondtes nie. Gaan op pensioen McGregor, jou tyd is verby.

Hendrik Marthinus ·

En Dana White gee die McGregor mannetjie elke keur die hoofgeveg.
Die man verdien nie tans om elke keer die hoofgeveg te kry nie.
Hy moet mos net soos Ander eers die Bo hom wen om by die kampioen uit te kom.
As ek Ander manne is Sal ek regtig Dana White vra wat kry hy heeltyd by Connor, Connor Bly verloor maar hy word geback 100%.
Hy moet maar Sy mond toehou want hy verloor elke geveg.
Tyd dat hy wat Connor is bietjie die openings geveg fight eks seker hy gaan verloor

Anthony ·

Conor is n money magnet, miljoene mense teken in om hom te sien op Pay-per-view. Dis Dana se golden goose, die hoekom hy so voor getrek word. Kyk maar ook met al sy gevegte as hy die ouens of uitslaan of op die grond kry, kry hy n hele paar houe in voor dir skeidsregte intree, maar as hy afgaan stop hul baie gou die geveg voor hy te seer kry( bewhalwe vir Saterdag se frats ongeluk). Met die inweeg wordhy beskerm deur die bouncers, hy kas skop slaat en goed rondgooi, die ander ouens word geen sulke manewales toe gelaat nie. Conor bring die geld in, like him or hate him. Ek persoonlik dink hy het n bullet gedodge want as sy been nie gebreek het nie, sou Dustin hom elk geval in ronde 2 uitgeslaan het….legit

SomeOne ·

conor het nie gedink dat ander mense se beenstruktuur ook hard kan wees nie, hy gaan nog lank uit aksie wees met so ‘n breuk
druk maar staal penne in, volgende skop dan breek die 2 bene net onder of bo die lasplek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.