Tsitsipas weer in eindstryd

Griekeland se Stefanos Tsitsipas het met ’n paar ongelooflike houe teen Jannik Sinner vorendaggekom. Foto: Aaron Francis/AFP.

Die Griek Stefanos Tsitsipas speel vanmiddag vir die eerste keer in ʼn eindstryd van ʼn toernooi sedert verlede jaar se Franse Ope.

Hy het in die halfeindstryd van die Rotterdam-toernooi teruggeveg nadat hy die eerste stel teen die Tsjeggiese kwalifiseerder Jiri Lehecka verloor het. Tsitsipas, die topgekeurde vir die toernooi, het eindelik met 4-6, 6-4 en 6-2 gewen.

Hy kom nou in die eindstryd teen die derde gekeurde Kanadees, Felix Auger-Aliassime, te staan. Hulle het reeds sewe keer teen mekaar gespeel en Tsitsipas loop met 5-2 voor.

Auger-Aliassime het die tweede gekeurde verdedigende kampioen, Andrey Rublev, met 6-7 (5/7), 6-4 en 6-2 geklop. Die Kanadees het 41 wenhoue geslaan, waarvan 11 kishoue was. Die 21-jarige Auger-Aliassime droom steeds van ʼn eerste titel op die ATP-toer. Hy het al in agt eindstryde gespeel, maar was in almal aan die verloorkant.

By die St. Petersburg-vrouetoernooi speel die eerste gekeurde Griek, Maria Sakkari, teen die tweede gekeurde Anett Kontaveit van Estonië in die eindstryd vanmiddag.

Sakkari het in die halfeindstryd vir Irina-Camelia Begu van Roemenië met 6-4, 6-7 (4/7) en 6-4 geklop. Kontaveit het makliker met 6-3 en 6-4 met die sewende gekeurde Jeļena Ostapenko van Letland afgereken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.