Uittrede wink, tog glimlag Danielle steeds

Die VSA se Danielle Collins is die Miami-opekampioen. (Foto: Elsa/Getty Images via AFP)

Danielle Collins mag dalk besluit het om haar tennisraket teen die einde van die jaar weg te bêre, maar die spel sorg steeds vir glimlagte en hoogtepunte.

Die 30-jarige Amerikaner is die nuwe Miami-opekampioen nadat sy vir Elena Rybakina met 7-5 en 6-3 in die eindstryd geklop het.

Dit is die derde enkelspeltitel van haar loopbaan terwyl dit ook haar eerste sukses in die finale wedstryd van ʼn ATP 1 000-toernooi is.

“Die energie van die toeskouers was bloot ongelooflik op die baan en dit het gevoel of ek voor duisende van my vriende speel. Ek sal vandag nooit vergeet nie,” het Collins gesê.

Die oorwinning beteken dat sy nou Maandag die 22ste plek op die amptelike WTA-ranglys sal beklee.

“Ek poog altyd om elke toernooi te wen waarin ek speel, maar omdat 2024 my laaste jaar is, wou ek bitter graag ʼn meesterstitel ingeoes het. Dit was ʼn baie belangrike doelwit.”

Sy erken dat Rybakina se spel haar gedwing het om op haar beste te wees.

“Ek het met ʼn paar wedstrydpunte gespog, maar Elena het my op my tone gehou en ek moes noodgedwonge die moeilike houe op die baan begin speel. Ek moes uithaal en wys om die wedstryd te wen.”

Terwyl die son stelselmatig oor haar loopbaan sak, lyk dit of sy nou op alle suiers begin vuur.

“Dit is my laaste tennisjaar, my laaste seisoen en die Miami-ope was een van my laaste toernooie. Ek wil hierdie oomblikke beslis onthou.”

Wat die oorwinning selfs soeter maak is dit die Florida-boorling sukses voor haar tuisskare kon smaak.

“In die motor op pad na die baan het ek besef dat ek vir die eerste keer in ʼn eindstryd in my tuisstaat speel; ons het sommer die volumeknoppie harder gedraai! Dit is die beste dag van my loopbaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.