Verdedigende kampioen Halep onttrek haar aan Wimbledon

Simona Halep. Foto: Glyn Kirk/AFP.

Simona Halep, die verdedigende kampioen op Wimbledon, het haar aan die toernooi onttrek omdat sy nog nie fiks genoeg is ná ’n kuitbesering nie.

Die 29-jarige Roemeense speler sukkel al geruime tyd met die besering en sy het ook die Franse Ope op Roland Garros misgeloop.

“Ek het alles binne my vermoë gedoen om gereed te wees vir Wimbledon, veral omdat ek soveel spesiale herinneringe van die baan het,” het Halep op sosiale media gesê.

Sy het in 2019 met Serena Williams in die eindstryd afgereken om die tweede Grand Slam-titel van haar loopbaan in te oes.

“Ek was dus opgewonde en het baie daarna uitgesien om weer op hierdie pragtige bane as die verdedigende kampioen te stap. Ongelukkig wou my lyf net nie saamspeel nie en dit ontstel my om hierdie nuus aan te kondig.”

Halep en Naomi Osaka se afwesigheid – wat vroeër aangekondig het dat sy die toernooi sal misloop – maak die deur ’n skrefie groter vir Williams oop om haar 24ste Grand Slam-titel te wen.

Wimbledon begin vanjaar op 28 Junie en tot 15 000 toeskouers sal die eindstryde mag bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.