Verstappen ‘baie rustiger’ as vantevore

Volgens Timo Glock sou Max Verstappen vantevore gesukkel het om sy humeur te beteuel, maar hy het net van die ongelukstoneel in Italië weggestap. Foto: Andrej Isakovic/AFP.

Talle F1-kenners meen dat Max Verstappen deesdae ’n kalmer, rustiger renjaer is wie se bloed nie sommer vir enigiets agter die stuur van sy Red Bull-motor begin kook nie.

Volgens Ralf Schumacher probeer die 24-jarige Nederlander nie meer so hard nie, terwyl hy ook van sy oortollige aggressie weggebêre het.

“Nou sien ons ’n gans ander Max Verstappen en as ontleder geniet ek die gedaanteverwisseling baie,” het Schumacher vroeër gesê.

Timo Glock, die voormalige Toyota-renjaer, stem heelhartig saam: Verstappen toon deesdae ongekende volwassenheid, veral wanneer dinge nie heeltemal volgens plan verloop nie.

Sy epiese tweestryd met Lewis Hamilton om die wêreldtitel het al ’n paar keer vir vuurwerke gesorg – dink net aan die ongelukke in Engeland en Italië.

“Ek dink Max toon ongelooflike vordering; hy is deesdae baie meer ontspanne en in beheer van dinge. Twee jaar gelede, as iets soortgelyk as in Italië gebeur het, sou hy waarskynlik vir Lewis met die vuis bygedam het,” het Glock gesê.

Verstappen wou destyds ook nie in ’n woordgeveg met die Mercedes-renjaer betrokke raak nie.

Hamilton het vroeër aangevoer dat die Red Bull-renjaer te hard probeer om ’n punt te bewys en dat die F1-seisoen met ’n marathon vergelykbaar is, en nie met ’n naelloop nie.

Verstappen het egter ná sy sege in Monaco geskerts dat “dade meer as woorde tel”.

Tog is die wêreldtitel hoegenaamd nie ’n uitgemaakte saak nie en met Mercedes se nuutgevonde spoed, sal Hamilton waarskynlik die gunsteling wees om met die louere in die VSA weg te stap.

“Ons is egter mal oor hierdie tweestryd en ons sal nie sommer die aftog blaas nie. Dit is ongelooflik dat ons in hierdie stadium van die seisoen steeds ’n kans het om die jaer- en vervaardigerskampioenskap te wen,” het Christian Horner, Red Bull-spanbaas, gesê.

Die VSA Grand Prix word Sondagaand vanaf 21:00 regstreeks op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stefaan ·

Ek het net twee gunstelinge. Verstappen en die een wat Hamilton uithaal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.