‘Verstappen laat my aan Senna dink’

Max Verstappen. Foto: Tolga Bozoglu/AFP.

Lewis Hamilton was vir jare F1 se onbetwiste wêreldkampioen in sy Mercedes, maar vanjaar kry hy kwaai teenstand van Red Bull se Max Verstappen.

Die 23-jarige Nederlander het vanjaar reeds sewe wedrenne gewen, terwyl hy slegs twee punte agter Hamilton op die jaerspunteleer is. Daarbenewens het hul epiese tweestryd al vir hoogdrama gesorg – dink net aan die gebeure op Silverstone en Monza.

Baie ontleders meen dat Verstappen nou ook slimmer bestuur – hy maak nie meer net op sy aggressie staat om ander renjaers te intimideer nie.

Tog glo Franz Tost, AlphaTauri se 65-jarige spanbaas, dat Verstappen se wil om te wen hom baie aan die legendariese Ayrton Senna laat dink.

Ayrton Senna vier een van sy oorwinnings. Foto: Toshifumi Kitamura/AFP.

Die vurige Brasiliaanse renjaer het 41 wedrenne in sy loopbaan gewen voordat hy in 1994 in ’n noodlottige ongeluk in Italië betrokke was. Hy was 34 jaar oud.

“Dit is altyd moeilik om renjaers uit verskillende eras met mekaar te vergelyk, maar Verstappen se bereidwilligheid om risiko’s te neem om te wen, laat my die meeste aan Senna dink,” het Tost gesê.

Volgens die Oostenryker is die jong renjaer in volle beheer van sy motor en het hy geen probleem om binne ’n oogwink ’n besluit te neem nie.

“Hy is ’n bekwame renjaer wat sy motor baie goed ken. Daarbenewens het sy pa (Jos Verstappen, óók ’n oudrenjaer) hom van jongs af baie goed geleer. Niks kan hom eintlik meer op ’n renbaan verras nie.”

Die Turkse Grand Prix begin Sondag in Istanbul en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Senna was ‘n legende gewees maar Shummi was die baas,ek hoop Max volg in sy voetspore.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.