Vettel en Ferrari se paadjies skei

Sebastian Vettel. Foto: AP Photo/Joan Monfort.

Toe die Duitse renjaer Sebastian Vettel in 2015 by Ferrari aangesluit het, het die vreugdevure hoog in Italië gebrand.

Vettel het immers ’n rits kampioenskapstitels saam met Red Bull ingepalm, terwyl hy die rekord vir die jongste wêreldkampioen agter sy naam gehad het toe hy die titel in 2010 as ’n 22-jarige gewen het.

Maar ná net 14 wedrenseges in 102 probeerslae saam met Ferrari is gesamentlik aangekondig dat sy en die motorvervaardiger se paaie gaan skei.

Tog is hy die derde suksesvolste jaer in Ferrari-geskiedenis, terwyl hy die meeste punte vir die span aangeteken het.

“Dit was nie ’n maklike besluit nie, veral as jy na Sebastian se waarde as bestuurder en mens kyk. Daar is geen spesifieke rede wat tot die ooreenkoms gelei het nie, behalwe dat die tyd reg was vir ons paaie om te skei,” het die Ferrari-baas, Mattia Binotto, gesê.

(AP Photo/Joan Monfort)

Op sy beurt was Vettel dankbaar vir sy geleenthede by Ferrari.

“Ons verhouding eindig aan die einde van 2020. Om die beste uitslae in sport te verseker, moet albei partye in perfekte harmonie saamwerk. Ek en die span het besef dat daar nie meer ’n gemeenskaplike begeerte is om langer as die einde van die seisoen saam te werk nie,” het hy gesê.

“Ek wil almal by Ferrari bedank en veral hul wonderlike ondersteuners vir al die ondersteuning oor die jare. Ek wil graag my Ferrari-hoofstuk op ’n hoë noot afsluit en ek hoop dat daar nog ’n paar goeie herinneringe op ons wag.”

Saam met Lewis Hamilton. (AP Photo/Rick Rycroft).

Hoewel hulle nog nie saam ’n wêreldtitel ingepalm het nie, was Binotto tevrede met Vettel se vertoning oor die afgelope vyf jaar.

Die grootse vraag is nou wie die Duitser se sitplek in die blitsige Ferrari sal oorneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.