Voormalige Ferrari-baas deel positiewe Schumacher-nuus

Jean Todt en Michael Schumacher vier sukses vop die renbaan. Foto Patrick Hertzog/AFP.

Jean Todt, die voormalige Ferrari-baas en een van Michael Schumacher se beste vriende, is van die min mense wat toegelaat word om die F1-legende te besoek.

Schumacher het in 2013 ernstige hoofbeserings ná ’n ski-ongeluk in die Franse Alpe opgedoen.

Todt se antwoord is egter gereeld dieselfde wanneer hy oor die voormalige Ferrari-renjaer se gesondheid uitgevra word: Hy is steeds besig om die stryd te voer en mense moet bid en vertrou dat sy toestand sal verbeter.

Maar nou het die 75-jarige Fransman met ’n helder sonstraal in die andersins somber prentjie vorendag gekom.

In ’n onderhoud met Duitse media het Todt gesê dat Schumacher op die herstelpad is.

Hy is ook vol lof vir Schumacher se vrou, Corinna.

“Sy is ’n merkwaardige vrou en in beheer van die gesin. Sy het haar nuwe pligte glad nie verwag nie; dit was skielik op haar afgedwing en sy het geen ander keuse gehad nie. Tog doen sy ’n uitstekende werk en ons vertrou mekaar.”

Todt het verlede jaar gesê dat Schumacher sy seun (Mick) se F1-loopbaan kan volg.

“Dit is danksy die werk van sy dokters en die vasberadenheid van Corinna, wat bo alles wou hê dat Michael moes leef, dat hy oorleef het. Ek verwag dat Michael stadig maar seker sal herstel.”

In die komende Netflix‑ dokumentêre prent oor die legendariese renjaer se lewe het Corinna gesê dat haar man ’n baie spesiale persoon is.

Corinna en Michael Schumacher. Foto: Jens Kalaene/AFP Photo.

“Ek dink dat hy doodeenvoudig geestelik baie sterk is; eintlik ongelooflik sterk. Hy wys dit nog op ’n daaglikse basis vir my,” het Corinna gesê.

Die Schumacher-familie het bevestig dat hulle nuwe beeldmateriaal van die F1-ster vir die dokkie sal beskikbaar stel.

“Die prent beeld Michael se indrukwekkende F1-loopbaan uit, maar ook van die fasette wat van hom ’n interessante en komplekse individu maak,” het Sabine Kehm, familie-woordvoerder, gesê.

Benewens eksklusiewe onderhoude met sy gesin, het Bernie Ecclestone, Sebastian Vettel en Mika Hakkinen ook bydraes gelewer.

Dit sal vanaf 15 September in Suid-Afrika uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elinette ·

Dat dit beter gaan met MS en dat hy verwag dat MS goeie herstel sal maak – m.a.w. hy is NIE in ‘n VEGETATIEWE toestand soos baie mense beweer nie.

Janine ·

Mag jy ten volle herstel! Jy is en bly ‘n ‘hero’, en steeds DIE BESTE!

JohanR ·

Wie is Louis Hamilton nou weer? Oe ja hy’s daai ou wat jou en Ayrton Senna se skoene vas maak net voor julle in julle resiesmotors klim.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.