Vyf in ’n ry vir Red Bull kan by Mercedes spook

Mercedes se Lewis Hamilton. Foto: Christian Bruna/AFP.

Die F1-seisoen is nog lank nie verby nie, maar ná Red Bull in die afgelope vyf wedrenne eerste oor die wenstreep gejaag het, kan ’n mens maar sê dat hulle tans die sterkste span in die sportsoort is.

Daarbenewens het Max Verstappen van die begin tot die einde in Oostenryk voorgeloop om sy voorsprong bo Lewis Hamilton op die punteleer met 32 punte te rek. Dit is die eerste keer in ’n hele paar seisoene dat alles nie volgens plan vir Mercedes loop nie.

Volgens die oudrenjaer Jan Lammers sorg ’n oorwinning of twee dat ’n renspan rustig in die aand slaap; dit is ’n goeie doepa teen onnodige spanning.

“Nou ervaar Mercedes en Lewis eerstehands wat Red Bull en Max al die jare moes deurmaak. Hulle moet nou bontstaan om aan almal te verduidelik waarom hulle nie gewen het nie en dit sorg vir baie meer druk,” het Lammers gesê.

Die verdedigende wêreldkampioen het ook tydens die afgelope wedren gekla dat sy motor skade opgedoen het toe hy oor die randversperrings gejaag het.

Max Verstappen. Foto: Gonzalo Fuentes/AFP.

Lammers kon egter geen fout met Hamilton se Mercedes-vuurwa vind nie. Hy meen trouens dat dit ’n verskoning kan wees.

“Dit is wonderlik om te wen, maar dit kan ook lastig wees want jy leer niks daaruit nie. Daarteenoor motiveer ’n tweede of derde plek jou baie.”

Red Bull se spanbaas, Christian Horner, het juis weer eens gewaarsku dat sy span nie té selfvoldaan moet wees nie.

“Ons weet ons het die laaste vyf wedrenne gewen, maar daar is nog ’n lang pad om te stap en ons kan nie bekostig om dinge as vanselfsprekend te aanvaar nie. Ons moet aanhou om ons beste in elke wedren te gee,” het Horner gesê.

“Silverstone (op 18 Julie) gaan inderdaad vir ons ’n groot uitdaging wees omdat dit vir die afgelope sewe jaar ’n veilige vesting vir Mercedes was. Maar daar gaan baie toeskouers wees en ons het uitstekende ondersteuners, dus kan ek nie wag om nog ’n vertoning te lewer waarop almal kan trots wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos10 ·

En 6 wenne teen 3 vir 2021 behoort nog meer vir Merc te pla. Ons is bykans halfpad deur die seisoen.
Daar is nog iets wat ek dink hulle tot raserny dryf. Mclaren gebruik ook ‘n Merc kragbron en het Sondag vir hulle ook weg gery. Duidelik is daar niks fout met die enjin nie. Lewis, volgens Merc, het ook ‘n fout gemaak wat skade aan sy kar veroorsaak het. Foute word gemaak onder druk.
Ek wonder steeds of Honda na die jaar gaan onttrek uit die sport?

Pierre ·

Mercedes moet dalk net ‘n minder arrogante bestuurder kry…

pompies ·

Daar is die sogenaamde sir nou sy troontjie kwyt en hy kan nie meer verskonings uit dink om red bull te striem nie, eers die vlerk agter en die hoe kar posisie en die enjin wat vervang is en en en. Snaaks die oomblik toe hulle begin verloor het hulle alle verskoning en blaam op ander spanne geplaas so dit was nooit sy bestuurs vernuf nie maar eerder n ongelooflike kar hom 7 maal kampioen gemaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.