Vyfde sege op ʼn streep vir Max

Max Verstappen is op koers na sy tweede agtereenvolgende wêreldtitel. Die Red Bull-renjaer het vandag in Monza gewen. Foto: Twitter.

Op laerskool het ʼn mens gereeld die storie van die haas en die skilpad se resies gelees.

Die rustige skilpad het uiteindelik voor die vinniger en ratser haas by die eindpunt aangekom, maar dit is duidelik dat die haas se naam nie Max Verstappen was nie. Want dan sou ou skillie nie ʼn kat se kans gestaan het nie.

Verstappen het vandag in Monza met die louere weggejaag. En nie ʼn Ferrari in geel of ʼn veiligheidsmotor in die 49ste ronde van die wedren kon hom van die heel boonste plek op die podium weghou nie.

Dit is die jong Nederlander se vyfde oorwinning op ʼn streep – die geruite vlag is laas in Oostenryk vir iemand anders geswaai – en sy voorsprong op die jaerspunteleer het ʼn verdere hupstoot gekry.

Hy het nou 116 meer punte as Charles Leclerc in die tweede plek.

Die Red Bull-renjaer het vandag sewende op die wegspringrooster begin en hy het binne ʼn oogwink sy pad na die vierde plek oopgeveg. Ná vyf rondes was hy kort op Leclerc se hakke en hy het uiteindelik net te veel skietgoed gehad; selfs al het ʼn veiligheidsmotor later die wedren van sy woema beroof.

Leclerc was tweede in sy Ferrari, gevolg deur Mercedes se George Russell. Nóg ʼn Ferrari-renjaer, Carlos Sainz, het vierdie geëindig nadat hy in die 18de plek weggespring het.

Indien alles volgens plan vir Verstappen verloop kan hy die wêreldkampioenskap in Singapoer beklink. Mits hy dan 14 punte meer as Leclerc verdien.

Die Singapoer-wedren word op 2 Oktober beslis.

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Charles Leclerc (Ferrari)
  3. George Russell (Mercedes)
  4. Carlos Sainz (Ferrari)
  5. Lewis Hamilton (Mercedes)
  6. Sergio Perez (Red Bull)
  7. Lando Norris (McLaren)
  8. Pierre Gasly (AlphaTauri)
  9. Nyck de Vries (Williams)
  10. Zhou Guanyu (Alfa Romeo)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen 335 punte
  2. Charles Leclerc 219 punte
  3. Sergio Perez 210 punte
  4. George Russell 203 punte
  5. Carlos Sainz 187 punte
  6. Lewis Hamilton 168 punte
  7. Lando Norris 88 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull 545 punte
  2. Ferrari 406 punte
  3. Mercedes 371 punte
  4. Alpine 125 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Janine ·

Ek gee nie om wie wen nie. Solank dit NIE hamilton is nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.