Wentzel in die kol by Wêreldbeker-boogskiettoernooi

Dannelle Wentzel in aksie. Foto: Reg Caldecott.

’n Tikkie sportgeskiedenis is die afgelope naweek gemaak toe Dannelle Wentzel die eerste Suid-Afrikaner geword het om ’n goue medalje as ’n individuele skut in die Wêreldbeker-boogskiettoernooi los te skiet.

Sy het Amerika se Alexis Ruiz in die eindstryd met drie punte (144-141) geklop om met die goud in Turkye weg te stap. Sodoende het sy ook vir die Wêreldbeker-eindstryd later vanjaar in Moskou gekwalifiseer.

Die 24-jarige het ná die tyd erken dat die senuwees geknaag het, maar sy het koelkop gebly om haar naam in die sportgeskiedenisboeke te skryf.

“Ek was só op my senuwees toe ek die eerste pyl loslaat, om nie eens van die tweede een te praat nie. Dit was nog altyd my droom om hier te skiet en ek is in die wolke oor die prestasie,” het dié Tukkie-student entoesiasties gesê.

Hoewel sy die belang van haar geskiedkundige goue medalje besef, weet sy dat harde werk voorlê indien sy weer soortgelyke sukses in die toekoms wil smaak.

“Boogskiet is ’n baie onvoorspelbare sport. Basies kan enige skut op enige gegewe dag wen. Ek dink dit kan goed met gholf vergelyk word: Wanneer jou kop die dag nie reg aangeskroef is nie, gaan jy sukkel.

“Wanneer jy deelneem, moet jy jouself daaraan herinner om te ontspan en dinge net te geniet. Jy moet basies visualiseer dat jou pyl suiwer en akkuraat sal trek. En onthou: geduld is die wagwoord!”

Sy oefen ses dae per week en kan soveel as 200 pyle in een sessie skiet.

By dieselfde kompetisie in Turkye het Reuben Brent-Meek en Jeanine van Kradenburg ook die goue medalje in die gemengdespan-kompetisie gewen – óók ’n eerste vir Suid-Afrika.

Dié twee het Denemarke se Stephan Hansen en Tanja Jensen met ’n enkele punt geklop. Die telling was 158-157.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hernan Goosen ·

‘n Moeilike sport wat sterk senuwees benodig. Goeie beheer oor postur, asemhaling en konsentrasie word hier benodig. Mens kan egter maklik die proses oordoen. Ietwat te lank huiwer en die boog raak onstabiel. Werklik ‘n prestasie!

aj ·

As boogskiet ‘n groepsport was sou Danelle nooit die goue medalje kon wen nie … want as gevolg van AA sou sy nooit die span gehaal het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.