Wêreldnetbaltoernooi: Proteas slag Tonga af

Die Proteas het Vrydagaand teen Tonga meegeding.
(Foto: Standerphotograph/Netball South Africa/Facebook)

Die Proteas kry Sondagoggend (11:00) in Kaapstad die kans om die teleurstelling om nie vir die halfeindronde van die Wêreldbeker-netbaltoernooi te kwalifiseer nie, te versag wanneer hulle in die uitspeelwedstryd om die vyfde plek teen Uganda uitspeel.

Die Proteas het Vrydagaand daarvan seker gemaak dat hulle tot dié kragmeting deurdring toe hulle Tonga met 72 – 46 getroef het.

Nadat die eerste kwart met 12 – 12 gelykop geëindig het, het die Proteas, met Elmeré van der Berg wat die ervare Ine-Marí Venter ná slegs ʼn paar minute vervang het, vlam gevat en die laaste drie kwarte met 18 – 11, 17 – 13 en 25 – 10 gewen om maklik te seëvier.

Uganda, wat stewig teenstand teen die Proteas in die laaste van die uitspeelrondes gebied het, het Malawi die eerste keer geklop toe hulle met 57 – 46 geseëvier het.

Ongeag wat teen die Proteas in die uitspeelwedstryd gebeur, is dit die beste wat Uganda nog by ʼn WB-toernooi kon vaar. Hul vorige beste was ʼn sewende posisie in 2019 in Liverpool.

In Vrydagaand se eerste kwart teen Tonga het die Proteas se Venter met net vyf van haar nege pogings (55%) geslaag voordat sy deur Van der Berg vervang is.

Van der Berg het met ʼn slaagsyfer van 94,4% afgesluit.

Danksy haar akkurate spel in die tweede kwart, toe Van der Berg met al 14 pogings in die kol was, was die Proteas tot die oorwinning aangevuur.

Die afrigter, Norma Plummer, het in die laaste kwart vir Khanyisa Chawane, Owethu Ngubane, Shadine van der Merwe en Nicola Smith as plaasvervangers opgestuur. Dié vars briesie het die Proteas aangevuur om 25 doele (teen 10) aan te teken om die oorwinning te behaal.

Van der Berg is welverdiend as mees waardevolle speler van die wedstryd aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.