Xena se Afrika-rekord van 240 kg is maar net die begin

Xena Botha. Foto: Verskaf/Andrew Harvard.

Wanneer Xena Botha voor swaar gewigte staan, is daar min dinge wat haar aandag aftrek.

Die Bloemfonteiner het juis onlangs die Afrika-rekord vir dooiegewigoptel (deadlift) met haar reusepoging van 240 kg by die Africa Strongman Union-kompetisie in Rustenburg verbeter.

“Dooiegewigoptel is ’n item wat absoluut my beste verg, maar terselfdertyd is dit ook een van my gunstelinge op die groot verhoog. Wanneer die gewigte voor my is, maak niks anders vir my saak nie,” het sy vir Maroela Media gesê.

Die Rustenburgse kragtoer is nie die enigste rekord wat sy agter haar naam het nie.

Sy is die nasionale rekordhouer toe sy met 220 kg op haar skouers gaan hurk het, terwyl ’n bankiedrukrekord (bench press) van 130 kg ook op haar CV pryk.

“Ek is nie normaalweg iemand wat maklik oor emosies gesels nie, maar wanneer ek suksesvol swaar dinge optel, dan is ek baie in my noppies.”

Xena Botha (Foto: Verskaf)

Botha was ook ’n kranige rugbyspeler in haar jonger dae.

Sy het die Springbokke se vrouespan by die Wêreldbeker-toernooi verteenwoordig, terwyl sy ook vir die Westelike Provinsie en die Vrystaat in aksie was.

In 2017 het sy haar stewels weggebêre omdat die kombinasie van rugby en kragsport sy tol op haar liggaam geëis het.

“Vandat ek kan onthou, wou ek nooit ’n vervelige bestaan gevoer het nie. En toe kom kragsport oor my pad. Wanneer my tegniek perfek is en ek die staafgewig kan optel, dan weet ek dat ’n lekker tyd op my wag.”

En die 240 kg-triomf is maar net die begin: Sy mik na ’n poging van 300 kg, amper 20 kg swaarder as die huidige wêreldrekord van 282,5 kg.

“Dit is my droom om rekords op te stel wat lank sal staan en om die weg vir ander vroue in die sport te baan. Net omdat dit nog nie vantevore gedoen is nie, beteken geensins dat dit onmoontlik is nie.”

Foto: Verskaf.

Wanneer sy nie vir ’n kompetisie voorberei nie, skaaf sy normaalweg ses dae per week aan haar vaardighede. ’n Sessie kan amper tot drie uur duur, waarvan sy minstens ’n halfuur strek voordat sy enigsins aan ’n gewigstaaf raak.

“Rekords en titels is egter nie ál wat saak maak nie. Die dinge wat ek die beste onthou, is die kinders wat ek met my passie vir die sportsoort inspireer en wat saam met my foto’s kom neem.”

  • Hoe haar beplanning vir 2021 lyk:

April: Nasionale kwalifiserende rondes in Welkom

Junie: Nasionale kampioenskap in Pretoria

Oktober: Wêreldkampioenskap in Portugal

Desember: Iron Gladiators-kompetisie in Durban

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Derik ·

Nuusberigte moet volledig wees en melding maak dat haar rekord slegs vir ‘n spesifieke wêreldliggaam geld (Strongman). Hierdie liggaam het verskillende reëls vir dooiegewigoptel (byvoorbeeld jy mag bandjies oftewel “straps” gebruik, en jy mag “hitch”). Hulle word ook nie getoets vir steroïdes nie.

Daarteenoor laat IPF kragoptel reëls nie “hitching” (waar jy die “bar”teen jou bene stut met die opkomslag) of bandjies toe nie. Die IPF toets ook hul atlete vir dwelms en steroïde.

Daarmee sê ek nie haar prestasie sleg nie. Sy het steeds baie hard gewerk en dit is ongelooflike gewigte wat sy optel. Maar die berig moet meld dat ‘n spesifieke liggaam se rekord is.

John ·

Derik ek stem saam. Daai nasionale rekord op haar CV was n RAW kompetisie, en nie n strongman nie. Ekt egter baie meer probleme met die kompetisie, as jy dink die berig is onvolledig dan moet jy haar diepte met die hurksit gesien het. My 8 maande swanger vrou het meer diepte gehad as wat sy gekry het met haar poging. Ek kry skaam dat daar beamptes is wat dit as n geldige poging beskou!

Desmond ·

As SBD-UK eers daardie hurksit tegniek sien, kom haal hulle gou weer al die toerusting wat hulle vir hierdie atleet geborg het. In vergelyking met hul atlete van ander lande, met groot name soos VSA se Amanda Lawrence, en VK se Cat Smith, het SBD die pot heeltemaal misgesit met hulle soektog na talent in Suid Afrika.

Mad Mike die Rhodesiër ·

WOW! Dis nou ‘n katjie wat jy nie sonder handskoene kan vat nie! Ek sal nie deur haar getik wil word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.