Aflosspan laat medaljevlam nog brand

Italië se Filippo Tortu (links) en Suid-Afrika se Akani Simbine (regs) strek na die wenstreep. (Foto: Jewel Samad/AFP)

Suid-Afrika se 4 x 100 m-mansaflosspan sal vanaand om 21:40 in die eindronde van die item by die Wêreldkampioenskap in Boedapest aantree.

Die span van Akani Simbine, Shaun Maswanganyi, Benjamin Richardson en Clarence Munyai het tweede in hul lopie met ʼn tyd van 37.72 sekondes geëindig om die vyfde beste kwalifiserende tyd vir die eindronde op te stel.

Italië – met die Olimpiese 100 m-kampioen Lamont Jacobs in hul groep – het met die toptyd van 37.65 sekondes vorendag gekom.

Die eindronde bied ʼn welkome geleentheid vir Suid-Afrika se Akani Simbine om vir oulaas sy stempel op vanjaar se Wêreldkampioenskap af te dwing.

Die naelloper is vroeër in die 100 m-halfeindronde gediskwalifiseer omdat hy te vinnig uit die blokke was. Hy het in die voorafgaande uitdunronde sy lopie met ʼn goeie tyd van 9.97 sekondes gewen.

“Dit voel goed om te hardloop, om terug op die baan te wees en as mentor vir Suid-Afrika se opkomende talent op te tree,” het Simbine gesê.

Suid-Afrika moes uit baan twee vir die eindronde kwalifiseer en Simbine meen dat die vonke kan spat as die Suid-Afrikaners ʼn beter baanloting vir die eindronde kry.

“Dit is altyd moeilik in dié baan en ons kan onsself ʼn klop op die skouer gee. As alles volgens plan verloop, kan ons goed in die eindronde vertoon. Die atlete is fiks, hulle is gereed vir aksie en ons beskik oor die vermoë om baie goed te doen.”

Die aflosatlete spring vanaand om 21:40 weg.

Lande wat vir die 4 x 100 m-eindronde gekwalifiseer het:

  1. Italië: 37.65 sekondes
  2. VSA: 37.67 sekondes
  3. Jamaika: 37.68 sekondes
  4. Japan: 37.71 sekondes
  5. Suid-Afrika: 37.72 sekondes
  6. Frankryk: 37.98 sekondes
  7. Groot-Brittanje: 38.01 sekondes
  8. Brasilië: 38.19 sekondes

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.