Gewese lugmag-man, onderwyser nou voorslag-atletiekafrigter

Dion Saayman met sy silwerware. Foto: Verskaf.

Dion Saayman se afrigterstorie by Hoërskool Centurion begin al in 1984 toe hy as ’n buite-afrigter aangestel is. Druk nou die versnelknoppie na 2019: Sy loopbaan by die Suid-Afrikaanse Lugmag het tot ’n einde gekom, hy is voltyds by die skool én hy is pas as Gauteng-Noord se landloopafrigter van die jaar aangewys.

O ja, daar is ’n ekstra meevallertjie – hy is sommer ook as die algehele beste mansafrigter tydens dié atletiekunie se jaarlikse prysuitdeling aangewys.

Deur die jare het Saayman al verskeie top-atlete afgerig, onder wie Ronel Thomas (tweekamp-wêreldkampioen) en Bennie Roux (die eerste Suid-Afrikaner om onder die drie top-deelnemers in die moordende MOAB240-wedloop te eindig).

Tog is die atleet op wie hy die trotste is waarskynlik sy dogter, Letitia.

Letitia het Suid-Afrika vir drie agtereenvolgende jare by die Wêreld-landloopkampioenskap verteenwoordig, terwyl sy tydens haar studie in die VSA ook hakskene vir ander atlete gewys het. Sy het haar All American-kleure in landloop verdien – slegs die vierde Suid-Afrikaner wat dié eer sedert 1980 te beurt geval het.

Maar, in Saayman se eie woorde, is elke atleet ewe belangrik – ván die wêreldkampioen tót die deelnemer wat heel laaste by die skool se interhuis-byeenkoms klaargemaak het.

“As afrigter moet jy ’n verskil in mense se lewe probeer maak. Ek probeer altyd om te onthou dat ’n indiwidu eerstens ’n mens is en dan eers ’n atleet,” het hy aan Maroela Media gesê.

Terselfdertyd glo hy dat jy nie ’n atleet vir prestasies moet afrig nie, want dan gaan dit oor jou eie ego as afrigter en nie oor die betrokke kind se belange nie.

“Ek glo daarin dat jy nie vír ’n kind moet droom nie, maar sáám met hom of haar moet droom. Dan sal prestasies in elk geval vanself kom.”

En dat afrigterswerk sy passie is, is duidelik wanneer hy met jou in Hoërskool Centurion se raadsaal gesels.

“Ek was teen die einde van my loopbaan aan die stuur van sake by 68 Lugskool se navorsings- en ontwikkelingsprogram. Maar hoewel my tyd in die lugmag wonderlik was, weet ek dat atletiekafrigting my skeppingsdoel is.”

Ten spyte van al sy sukses – hy het al 78 SA landloopkampioene en 511 provinsiale skoolatlete afgerig – bly sy voete vierkantig op die grond.

“Jy is buitendien net so goed soos jou laaste wedloop. Tog glo ek met my hele hart dat die Here harde werk sal beloon, maak nie saak hoe gering jou taak ook al mag wees nie.

“As afrigter moet ’n kind iets van Jesus se geaardheid in jou sien – wat jy preek en wat jy doen moet ooreenstem.”

Juis om dié rede is Saayman altyd betyds vir oefensessies – hy het respek vir homself en respek vir sy atlete. Elke een van hulle.

  • Saayman het in 2009 en in 2011 soortgelyke toekennings van die Noord-Gautengse atletiekbeheerliggaam ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maria ·

Baie geluk trots op jou hou aan daarmee wat jy bereik het. Puk n vrug!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.