LJ van Zyl oor wêreldatletiek in die tyd van Covid-19

LJ van Zyl vlieg oor ’n hekkie. Foto: Facebook.

As daar nou iemand in Suid-Afrika is wat nie net nasionale, maar ook internasionale atletiek góéd ken, dan is dit LJ van Zyl.

Die 34-jarige voormalige hekkiesatleet het onder meer goud by die Statebondspele gesmaak, terwyl hy ook die o.20-wêreldkampioen was. Boonop is sy spogtyd van 47,66 sekondes steeds die Suid-Afrikaanse rekord in die 400 m-hekkies.

En, soos wat hy self sê, vir 17 jaar van sy lewe het hy atletiek geëet, gedrink en geslaap.

Deesdae is hy as dosent aan die Fakulteit van Opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria verbonde, maar as koördineerder van 15 verskillende sportsoorte is hy beslis nog op hoogte van verwikkelinge in die sportwêreld.

Kom ons begin dus by die voor die hand liggende onderwerpe: Die Olimpiese Spele en die Covid-19-pandemie.

“Ek dink dit was definitief die regte besluit om die Spele tot 2021 uit te stel. Dit is verstommend as ʼn mens in ag neem dat vanjaar se Spele nou net ’n paar weke weg sou gewees het. Ek is trouens van mening dat ons gelukkig sal wees as die Spele wel volgende jaar soos beplan kan voortgaan: Atlete moet vooraf kwalifiseer en internasionale blootstelling kry en ek weet nie of die wêreld al reg sal wees nie,” het hy Donderdagmiddag aan Maroela Media gesê.

Tog meen Van Zyl dat die verpligte afsonderingstydperk voordelig kan wees vir atlete en dalk selfs atlete se loopbane kan verleng.

Akani Simbine. Foto: GB Jordaan

“Sportmanne en -vroue is nie masjiene nie en dit is onmoontlik om jaarliks sterk te vertoon. Die blaaskans kan ook sielkundig nie ’n slegte ding wees nie; veral vanuit ’n holistiese oogpunt. Dit gee atlete die kans om te reflekteer oor hul lewens en oor wat hulle ná sportloopbaan gaan doen.”

Hoe sou hy as professionele atleet die afsonderingstydperk aangedurf het?

“Ek sou lekker vir ’n maand of twee gerus het, terwyl ek my kop weg van sport gekry het en minder nuus gelees het om so kalm as moontlik te bly. Nou, hier in vlak 3, sou ek my spiere begin versterk het om my enjin te bou; daardie dingetjies waarvoor jy normaalweg nie tyd in ’n besige seisoen kry nie.”

Vanuit ’n plaaslike atletiek-oogpunt is die 100 m skielik Suid-Afrika se sterkste item. ’n Vlieënde Akani Simbine het vroeër vanjaar ’n blitsige 9,91 sekondes in die LC de Villiers-stadion in Pretoria gehardloop, terwyl skoolsterre soos Mbhoni Mabunda en Banele Nkunyane onder die voorste o.18-atlete ter wêreld tel.

Van Zyl het self al dié item in 10,3 sekondes afgeblits. Hy maan egter dat daar nog ’n paar sterk naelloop-atlete hul verskyning moet maak voordat Suid-Afrika met ’n land soos die VSA kan saamgesels.

“Ek is opgewonde oor Suid-Afrika se aflostoekoms. Vir die eerste keer in die geskiedenis was daar ’n professionele oefenkamp vir aflosatlete; ek het van die oefenvideo’s gesien en die atlete het ongelooflik gelyk.

Met die 100 m-wêreldkampioen, Christian Coleman van die VSA, wat nou geskors is, was daar ’n baie goeie kans dat ons naellopers uitstekend op die internasionale verhoog sou presteer het.”

In die geheel is hy positief oor Suid-Afrikaanse atletiek.

LJ van Zyl (middel). Foto: ANA

“In die laaste paar jaar het die kwaliteit van deelname aansienlik in Suid-Afrikaanse atletiek verbeter. Hier is nou ’n 400 m-veld waar ’n klompie ouens vinniger as 50 sekondes kan hardloop en ʼn mens is ook vooraf onseker wie die item gaan wen. Dan word die Pilditch-stadion opgradeer – dit is ’n lekker vinnige baan waar Michael Johnson destyds die 300 m-wêreldrekord aan flarde gehardloop het.”

Van Zyl meen egter dat atletiek in die Covid-19-era ongetwyfeld ’n uitdaging sal wees.

“Dit is beslis moeiliker om voor ’n leë stadion te hardloop. Atlete is op hul beste wanneer die toeskouers hul aanmoedig; probeer jouself net die doodse stilte vóór die 100 m indink. Dit is onwerklik.”

Maar ten spyte van die onsekerheid en die finansiële implikasies van Covid-19 op atletiek, kan LJ van Zyl nie wag dat atletiekbyeenkomste weer hervat word nie.

“Mense is immers uitgehonger vir goeie atletiek.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.