Wenner van Twee Oseane streef na Comrades-glorie

Gerda Steyn het vanjaar se Twee Oseane in ’n amperse rekordtyd gewen. Foto: Facebook.

Die 94ste weergawe van die gewilde, dog moordende, Comrades-marathon begin Sondag in Durban en eindig so te sê 90 km verder in Pietermaritzburg. En Nedbank Running Club se Gerda Steyn wil dan eerste oor die wenstreep wees.

Die 29-jarige Steyn het vroeër vanjaar hakskene vir ander drawwers in die Twee Oseane gewys toe sy die rekordtyd net-net misgeloop het. Maar nadat sy verlede jaar tweede in die Comrades geëindig het, wou sy waarskynlik daardie ekstra petrol in haar tenk vir dié ultra spaar.

Tog is daar ’n rits ander deelnemers wat vir Steyn weg van die hoogste Comrades-podiumplek wil hou.

“My grootste teenstander is die wedloop-gunsteling, Ann Ashworth. Sy het verlede jaar stof in almal se oë geskop met ’n ongelooflike vinnige tyd en sy sal vanjaar as verdedigende kampioen weer ’n soortgelyke vertoning wil lewer. Dan is Alexandra Morozova van Rusland ook weer terug en uitgehonger vir ’n eerste plek. Camille Heron (VSA) en Chrissie Wellington (Engeland) sal ook die kykers vasgenael hou,” het Steyn aan Maroela Media gesê.

Soos wat Steyn as atleet ontwikkel het, het haar oefenmetodes ook mettertyd verander.

“Vyf jaar gelede sou ek vir jou gesê het dat ek oefen omdat dit vir my lekker is. Vandag verskil dit so ’n bietjie, want nou oefen ek op ’n program wat haarfyn beplan is en ek is baie meer gefokus as vantevore.”

Die een ding wat egter dieselfde gebly het, is die genot wat ek uit draf put. Ek het myself belowe dat ek dit net sal aanhou doen tot en met die dag wat ek voel ek ‘moet’, in plaas daarvan dat ek ‘wil’. Ek dink egter nie daardie dag sal in die nabye toekoms wees nie!”

Verkies sy die op- of die af-wedloop?

“Dit is vir my moeilik om te kies. Ek is baie lief vir die Comrades en persoonlik dink ek nie juis daar is veel van ’n verskil tussen dié twee weergawes nie. My voorbereiding vir die op-wedloop verskil net effens omdat dit meer krag vereis,” verduidelik sy.

“Die feit bly egter staan dat al twee weergawes van die Comrades bulterig is en die stryd is tussen my en die afstand, ongeag die rigting waarin ek moet hardloop. Jy kan egter vooraf oefen en beplan soos wat jy wil, maar 70% van die Comrades hardloop jy in jou kop.”

Steyn gebruik ’n paar tekkies vir tussen 600 en 800 km op ’n slag. Wen sy Sondag, kan haar tekkieborg haar gerus van ’n paar goues voorsien.

  • “Ek het nie landloop op skool gedoen nie en ek is spyt daaroor. Dit voel asof daar ’n hele wêreld daarbuite was waarvan ek niks geweet het nie.”
  • My droomwedloop was vanjaar se Twee Oseane. Dit het gevoel asof ek sterker geword het soos wat die eindstreep naderkom.”

“Ek dink ek het so drie jaar gelede laas ’n wedloop van vyf kilometer aangepak. Maar as ek my tyd oor dié afstand moet raai, sou ek sê iewers tussen 15 en 16 minute.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Patrys ·

Hou vir jou duimvas Gerda – onthou die op Comrades “begin” by Camperdown

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.