Binder laat die koppe in Katar draai

Brad Binder (Foto: Red Bull KTM/X)

Hou Suid-Afrika se Brad Binder (Red Bull KTM) vanjaar maar dop in die MotoGP-reeks.

Dis nie meer ʼn geval van as nie, maar wanneer.

Binder, wat ʼn hele paar jaar aan die deur klop, het tweede in Saterdag se naelritren in Katar se MotoGP in Lusail geëindig. In Sondag se hoofren was hy tweede en ná die naweek is hy ook tweede op die kampioenskapspuntelys.

Hy ding nou op gelyke voet met die rits Ducati-fabriekspanne mee en dis glad nie vergesog nie dat hy ʼn hele paar podiumplekke vanjaar gaan losjaag en self ʼn aanspraakmaker op die wêreldtitel kan wees.

Verby is die dae dat hy swak kwalifiseer en dan met ʼn groot agterstand moet meeding.

Sondag se MotoGP is deur die huidige wêreldkampioen, Francesco Bagnaia (Ducati Lenovo), gewen. Binder was tweede en Jorge Martin, wat Saterdag se naelritren gewen het, was derde op sy Pramac Ducati.

Hy is gevolg deur Marc Marquez (Gresini Ducati), Enea Bastianini (Ducati Lenovo) en Alex Marquez (Gresini Ducati).

Binder, wat Saterdag en Sondag in die vierde wegspringposisie ná vinnige kwalifisering-sessies was, het Sondag oudergewoonte by die wegspring na vore geskiet en was gou-gou tweede na Bagnaia.

Binder en Martin het mekaar deurentyd opgekeil en ʼn hele paar keer plekke geruil.

Dit het die deur vir Bagnaia oopgemaak om sy eerste plek te behou terwyl hulle om die tweede plek baklei het.

Die wedren is van 22 rondtes tot 21 rondtes verkort nadat Raul Fernandez (Trackhouse) se fiets kort voor die wegspring onklaar geraak het.

ʼn Rooi vlag is verwoed geswaai en moes sy fiets na die kuipebaan stoot vanwaar hy moes wegspring.

Die ander jaers is kans gegee om ʼn tweede oorsigrondte af te lê om te sorg dat hulle bande nie koud raak nie.

Binder het Saterdag met sy tweede plek in die wedren, wat deur Martin gewen is, nege punte verdien en Sondag 20.

Bagnaia is voor met 31 punte, gevolg deur Binder (29) en Martin (28).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.