Geen gelyke vir Blitsbokke, Tatjana

Die Blitsbokke was die enigste onoorwonne span in die toernooi. (Foto: Springbok Sevens/Twitter)

Die son het gister in Birmingham al helderder op die Suid-Afrikaanse span begin skyn toe hy vier medaljes, wat twee goues insluit, op die derde dag van die Statebondspele gewen het.

Ná ʼn medaljedroogte op dag een het die seëvierende Blitsbokke (goud), Tatjana Schoenmaker (goud), Chad le Clos (silwer) en Kaylene Corbett (brons) die vonk verskaf wat Vrydag ontbreek het.

Dit het Suid-Afrika tot vierde op die algehele medaljetabel laat opskuif.

Australië met 52 medaljes (22 goud, 13 silwer en 17 brons) loop steeds gerieflik voor en word gevolg deur Engeland met 34 medaljes (11 goud, 16 silwer en 7 brons), Nieu-Seeland met 19 (tien goud, vyf silwer en vier brons) en dan Suid-Afrika met ses (vier goud, een silwer en een brons).

Die Blitsbokke het laat Sondagaand in Coventry in die eindstryd van die rugbysewes maklik met Fidji afgereken en met 31-7 gewen.

Die groot uitblinkers was weer die vlugvoetige Angelo Davids, wat met sy tien drieë die voorste driedrukker in die toernooi was, JC Pretorius, Muller du Plessis en Dewald Human.

Die Blitsbokke was die enigste onoorwonne span in die toernooi en het oorwinnings van 46-0 oor Maleisië, 36-5 oor Tonga, 34-0 oor Skotland, 33-0 oor Kanada, 24-12 oor Australië en 31-7 oor Fidji behaal.

Dit het aan hulle ʼn totaal van 204 punte besorg terwyl hulle net 24 punte afgestaan het.

Schoenmaker en Corbett was die span se groot helde in die swembad toe hulle onderskeidelik goud en brons in die 200 m-borsslag verower het.

Dan het Le Clos met sy silwer medalje in die 200 m-vlinderslag sy 18de medalje op die Statebondspele gewen, wat die meeste nóg ewenaar.

Pieter Coetzé het boonop die vinnigste tyd in die 50 m-rugslag (halfeindronde) aangeteken en sy tweede goue medalje wink.

Op die netbalbaan het die Proteas hul drag slae teen Jamaika afgeskud toe hulle Barbados met 91-36 uitgestof het.

Elmarie van der Bergh het 47 doele (49 probeerslae) aangeteken.

Só vaar SA span Sondag:

Pluimbal: Gemengde span: Kwarteindronde: Indië 3, Suid-Afrika 0.

Boks: Simnikiwe Bongco klop Foday Badjie (Gambië) met 5-0 in die middelgewigafdeling (75 kg).

Gimnastiek: Muhammad Khaalid het 14de geëindig met ʼn totaal van 75.700 punte. In die vroue-afdeling was Naveen Daries sesde met ʼn puntetotaal van 49.850 en Caitlin Rooskrantz negende (48.350).

Hokkie: Suid-Afrika se vrouespan is met 5-0 deur Australië geklop.

Rolbal: In die manspare (para) is Willem Viljoen en Deon van der Vyver met 16-13 deur Engeland verslaan.

In die vrouepare het Desiree Levin en Victoria van der Merwe Nieu-Seeland met 25-6 geklop.

In die kwarteindronde (viere vir vroue) het Johanna Snyman, Esme Kruger, Bridgit Calitz en Thabelo Muvhango die halfeindronde gehaal met ʼn oorwinning van 12-11 oor Engeland.

In die gemengde pare (para) het Tracy Smith, Thomas Smith, Hermanus Scholtz en Johanna van Rooyen met 6-28 teen Skotland verloor.

Netbal: Suid-Afrika klop Barbados met 91-36. Die tellings in die vier kwarte was 23-9, 20-0, 23-9 en 25-9.

Para-driekamp: Gavin Kilpatrick (met gids Moodie Casper) was sewende. In die vroue se PTVI-eindstryd was Linsay Engelbrecht (met gids Heimann Trish) vyfde.

Sewesrugby: Blitsbokke klop Fidji met 31-7 in die eindstryd.

Die vrouespan het Sri Lanka met 33-10 verslaan om sewende uit agt spanne te eindig.

Swem: Chad le Clos wen silwer in die 200 m-vlinderslag.

Pieter Coetzé (24.095) teken die vinnigste tyd in die halfeindronde van die 50 m-rugslag aan.

Tatjana Schoenmaker (2:21.92) wen goud in die 200 m-borsslag met Kaylene Corbett (2:23.67) derde.

Daar was ook skaflike vertonings deur Erin Gallagher (50 m-vlinderslag), Rebecca Meder (dieselfde resies), Emma Chelius (50 m-vryslag), Christian Sadie (100 m-borslag, SB8), Brenden Crawford (100 m-borsslag) en Guy Brooks (100 m-vryslag).

Driekamp: Jamie Riddle, Simone Ackerman, Henri Schoeman en Shanae Williams eindig agtste in die aflos vir gemengde spanne.

Gewigoptel: Anneke Spies eindig vierde (vroue, 59 kg) en Jon-Antohein Phillips (mans, 73 kg) tiende.

Rolstoel-basketbal: Suid-Afrika se mans verloor met 6-13 teen Maleisië en die vrouespan word met 21-3 deur Australië uitgestof.

*Bron: Saskok

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Well done Blitzbokke… Nogsteeds bekommerd dat hulle September by Wereld kampioenskapp, dalk in die hek mag dyk.

Roek ·

Net Jammer daar is nie eens “n klein springbok embleem op die mou of selfs op die broekspype nie , hulle is nou maar die blitstias!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.