Gholf: Bezuidenhout laat SA vlag wapper

Christiaan Bezuidenhout. (Foto: Sean M. Haffey / GETTY IMAGES NORTH AMERICA / Getty Images / AFP)

Die Suid-Afrikaner Christiaan Bezuidenhout het die vlam laat brand ná die tweede ronde van die Ierse Ope-gholftoernooi wat in Kilkenny beslis word nadat die meeste van sy landgenote maar gesukkel het om die lont aan te steek.

Bezuidenhout (135, -9) is saam vyfde en vier houe agter die voorloper, Lucas Herbert van Australië, wat op 131 twee houe voor Andy Sullivan (Engeland) en die Skot Grant Forrest (albei 133) is.

Hulle word deur Dale Whitnell (Engeland) op 134 gevolg.

Bezuidenhout het die eerste twee rondes in 67 en 68 houe voltooi en is saam met drie ander spelers, Adrian Otaegui (Spanje), Richard Bland (Engeland) en Johannes Veerman (VSA), saam vyfde.

Van Bezuidenhout se Suid-Afrikaanse landgenote het Justin Harding (139), Zander Lombard (140), Justin Walters (140) en Darren Fichardt (141) skaflik gevaar sonder om die baan aan die brand te speel.

* In Detroit in Amerika loop die Engelsman Tom Lewis en Joaquin Niemann van Chili (albei 134 houe) saam voor ná die tweede ronde van die Rocket Mortgage Classic.

Lewis-hulle word gevolg deur drie Amerikaners, Max Hona, Chris Kirk en Troy Merritt (135).

Suid-Afrika se Garrick Higgo (139) is net vyf houe agter Lewis-hulle, maar in die gesamentlike 34ste posisie nadat hy 68 en 71 houe in die eerste twee rondes aangeteken het.

Slegs sewe houe skei die voorste 69 spelers.

* Intussen het die Japanner en Amerikaanse Meesterskampioen, Hideki Matsuyama, Vrydag positief vir Covid-19 getoets kort voordat hy in die tweede ronde afgeslaan het.

Hy het saam met die twee Amerikaners Phil Mickelson en Rickie Fowler gespeel, wat voortgespeel het.

Matsuyama is die vyfde speler wat positief toets tydens ʼn toernooi, met Jon Rahm (Spanje) wat sowat ʼn maand gelede ná die derde ronde van die Memorial-toernooi in kennis gestel is dat hy ook positief was.

Slegs spelers wat nie ten volle ingeënt is nie, word deur die PGA getoets.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.