Amerikaanse Ope: Louis tem (byna) New York se Groen Monster

Louis Oosthuizen gedurende die tweede ronde van die Amerikaanse Ope in Mamaroneck, New York. (Foto: AP Photo/John Minchillo)

Vergeet maar van Sun City se berugte Groen Monster, die Winged Foot-gholfbaan buite New York is veel erger.

Die lang, dik, welige gras neffens die skoonvelde en setperke, die hordes sandkuile en ʼn wind wat waai, stel baie hoë eise aan die wêreld se voorste spelers.

Die Amerikaner Patrick Reed (136) is by die halfpadmerk van die Amerikaanse Ope voor met een hou, gevolg deur sy landgenoot Bryson deChambeau (137). DeChambeau het 68 houe in die tweede ronde gespeel, wat die beste van die dag was.

Hy word gevolg deur die Spanjaard Rafa Cabrera Belo, Harris English en Justin Thomas (al drie op 138) met nog ʼn Amerikaner, Jason Kokrak, op 139.

Patrick Reed van die VSA gedurende die tweede ronde van die Amerikaanse Ope in Mamaroneck, New York. (Foto: AP Photo/John Minchillo)

Net ses spelers kon in die eerste twee rondes beter as baansyfer vaar.

Gaan blaai maar terug in die rekordboeke. In 1929 het Bobby Jones die eerste Amerikaanse Ope wat op dié baan gespeel is, met ʼn telling van ses houe meer as baansyfer gewen en in 2006 was die Aussie Geoff Olgilvy (+5) ook baas in die laaste toernooi.

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen was gister ook tussen die voorlopers en as hy die spinnerakke van die laaste drie putjies van sy tweede ronde kan afskud, sal hy steeds ʼn kans hê.

Oosthuizen was op pad om sy plek op die voorlopersbord oop te kerf nadat hy 67 houe in die eerste ronde aangeteken het. Hy was op die 15de putjie nog gelyk aan baansyfer in sy ronde nadat hy op twee putjies (4de en 5de) houe aan baansyfer afgestaan het, maar dit met twee voëltjies (9de en 13de) gekanselleer het.

Jason Kokrak van die VSA gedurende die tweede ronde van die Amerikaanse Ope in Mamaroneck, New York. (Foto: AP Photo/John Minchillo)

Maar toe trap hy klei oor die laaste drie putjies en staan vier houe af nadat hy op die 16de en 17de een hou aan syfer afgestaan het en twee houe op die 18de moes inboet.

Ewe skielik was Oosthuizen uit die wedloop, of so het dit voorgekom, nadat hy 74 houe vir ʼn totaal van 141 houe op sy telkaart ingevul het.

Hy is in die gesamentlike 12de posisie met steeds ʼn houvas.

Van die ander Suid-Afrikaners vaar Erik van Rooyen (144) en Christiaan Bezuidenhout (146) ook skaflik, maar Shaun Norris (148), JC Ritchie (152), Justin Harding (153) en Branden Grace (154) kon nie die afsnypunt haal nie.

Kom ons plaas dit in perspektief: van die wêreld se voorste spelers, soos Tiger Woods, Justin Rose en Danny Willett (al drie +10), Phil Mickelson (+13), Jordan Spieth (+14), Sergio Garcia (+15) en Graeme McDowell (+16), kon dit ook nie maak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.