Ashleigh boer effe agteruit

Ashleigh Buhai (Foto: Drew Hallowell/Getty Images/AFP)

ʼn Yskoue setyster was die groot rede waarom die Suid-Afrikaanse gholfster Ashleigh Buhai Vrydagoggend in Maleisië agteruit geboer het.

Die 34-jarige Johannesburger het ʼn teleurstellende telling van 73 houe – een hou meer as die baansyfer – op haar telkaart ingevul vir ʼn totaal van 142 (-2) en is halfpad deur die Maybank-kampioenskap in Kuala Lumpur in die 47ste posisie.

Buhai het Donderdag ʼn stewige 69 houe gespeel en Vrydag die tweede ronde met voëltjies by die tweede en vierde putjies begin.

Maar net toe dit wou voorkom of die majorkampioen ʼn sterk aanslag sou loods, het sy vasgeval met ʼn brouhou by die vyfde putjie en ʼn dubbele een by die negende.

Oor die laaste nege putjies het Buhai elke keer syfer gespeel en sy kon nie weer vorentoe beur nie.

Dit was grootliks die Suid-Afrikaner se spel op die kort grassies wat haar gekniehalter het.

Sy het 33 sethoue oor die agttien putjies nodig gehad in vergelyking met die 27 wat sy die vorige dag nodig gehad het. Dit is nie op standaard indien jy toernooie wil wen nie.

Buhai se spel verder was eersteklas. Sy het twaalf van die veertien skoonvelde gevind en vyftien van die agttien setperke raakgeslaan. In enige geselskap is dit goed.

Met twee rondes oor is Buhai nou tien houe agter die Maybank-voorloper Jasmine Suwannapura, wat haar 63 van die eerste dag met ’n 69 op dag twee opgevolg het danksy vier voëltjies oor haar tweede nege.

Amerika se nuutste gholfvonds, Rose Zhang, is op -11 in die tweede plek ná ʼn telling van 68 nadat sy die toernooi met ʼn puik 65 afgeskop het.

Drie spelers, Celine Boutier van Frankryk, Hannah Green van Australië en Taiwan se Peiyun Chien, deel op -10 die derde plek.

Boutier was op haar stukke met ʼn 64 wat nege voëltjies en een brouhou ingesluit het.

Chien het dag een met ʼn telling van 63 as die voorloper afgesluit.

Haar vertoning van 71 Vrydag het drie voëltjies oor die eerste vier putjies van die tweede nege ingesluit nadat sy swak begin het met drie brouhoue oor die eerste nege.

Chien het die dag ook met ʼn brouhou op die agttiende afgesluit, maar sy is steeds baie goed geplaas en sterk in die wedloop om die titel.

Chien-hulle word op die voorlopersbord gevolg deur A-lim Kim en Gina Kim op -9 met ʼn groep van vier spelers, onder wie die wêreld se no. 1-speler Ruoning Yin, op -8.

*Op plaaslike bodem in die Sonskynreeks is Jonathan Broomhead die voorloper met een hou in die SunBet-uitdaagtoernooi op Umhlali.

Broomhead, wat op soek is na sy eerste sege, was nie Donderdag so warm soos die vorige dag nie en het ʼn 72 aangeteken vir ʼn totaal van 135 (-7).

Die 22-jarige Durbaniet is met een ronde oor steeds boaan die voorlopersbord hoewel sy voorsprong van vier houe ná dag een tot slegs een gekrimp het na die tweede dag se spel.

Die speler naaste aan Broomhead is Christiaan Burke, wat ʼn 69 by sy eerste dag se vertoning van 67 gevoeg het.

Keenan Davidse (69 vir -5) lê derde, met Luke Jerling en die veteraan Dougie McGuigan op -4 in die gesamentlike vierde posisie.

McGuigan het ʼn voortreflike 66 in winderige toestande gespeel en sal in Vrydag se derde en laaste ronde ʼn gevaar inhou sou die weersomstandighede guur wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.