Britse Ope maak geen toegewings vir LIV-spelers

(Argieffoto: Orlando Ramirez/Getty Images/AFP)

Britse Ope- amptenare het geen toegewings jeens LIV-gholf gemaak nie nadat hy veranderings aan kwytskeldingskategorieë vir die toernooi Woensdag bekend gemaak het.

Punte op die wêreldranglys is nie beskikbaar vir spelers wat by die omstrede Saoedi-wegbreektoer aangesluit het nie – en dit maak dit toenemend moeilik om op daardie manier vir die Britse Ope te kwalifiseer.

Voormalige Major-wenners Jon Rahm, Cameron Smith, Dustin Johnson, Brooks Koepka, Bryson DeChambeau en Phil Mickelson het reeds plekke vir vanjaar se Britse Ope in Julie by Royal Troon.

Nog LIV-spelers wat gewaarborgde plekke het sonder dat hulle hoef te kwalifiseer, is Tyrrell Hatton, Dean Burmester, Adrian Meronk, Joaquin Niemann, Louis Oosthuizen en David Puig.

Greg Norman, uitvoerende hoof van LIV-gholf, het Dinsdag aan spelers geskryf om aan te kondig dat LIV nie meer sy lang stryd voortsit om punte op die wêreldranglys te probeer verseker nie. Weens ʼn samesmelting tussen die PGA-toer en LIV, was daar gerugte dat toegewings dalk vir LIV-spelers gemaak sou word.

Die noemenswaardigste wysiging wat egter aangebring is, is die vermindering van die kwytskeldingstydperk vir nuwe kampioene tot die ouderdom 55.

Voormalige kampioene sal steeds tot op die ouderdom van 60 kan speel; Tom Watson het die Claret Jug-trofee in 2009 amper vir ʼn sesde keer by Turnberry omhoog gehou net sewe weke voor sy 60ste verjaardag.

Ander veranderings sluit in dat spelers wat op verskeie ander toere meeding – onder meer die Sonskyntoer – kan kwalifiseer deur een van die top vyf plekke op die wêreldranglys.

ʼn Uitsondering word ook gemaak vir die Afrika-amateurkampioen, met die Suid-Afrikaner Altin van der Merwe wat vanjaar deelneem nadat hy verlede maand die Afrika-amateurkampioenskap in ʼn uitspeelstryd op die Leopard Creek-baan gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.