Charl en Louis rooiwarm in die woestyn

Joaquin Niemann (Foto: DAVID GRAY/AFP)

Die amperse boomlose Royal Greens-gholfbaan met die lowergroen ruveld in die woestyn in Djeddah in Saoedi-Arabië, pas die vier Suid-Afrikaners (Stinger-span) wat daar in die LIV-toernooi speel soos ʼn handskoen.

Die Chileen Joaquin Niemann loop ná die tweede ronde op 127 houe (-13) met twee houe voor Suid-Afrika se Charl Schwartzel (129, -11) met Louis Oosthuizen en die Amerikaner Jason Kokrak wat saam derde is op 130 (-10).

Die twee ander Suid-Afrikaners, Branden Grace (132, -8) en Dean Burmester (134, -6), het woestyn-baan ook getem.

Die Suid-Afrikaanse Stinger-span (-29) loop met sewe houe voor Smash en Legion X111 (albei -22) met Torque vierde op -20, met net Sondag se derde en laaste ronde oor.

As die Suid-Afrikaners die pas kan volhou, en alles dui daarop, sal hulle die spanafdeling wen en hul bankbalanse met nog verdere miljoene laat bult.

* Op die PGA National-kampioenskapsbaan by Pebble Beach in Kalifornië het die Suid-Afrikaanse aanslag in die Cognizant Classic, wat deel is van die Amerikaanse PGA-reeks, effe in die derde ronde gekwyn.

Die Amerikaner Austin Eckroat, David Skinns van Engeland en Shane Lowry van Ierland loop saam voor op 200 (-13). Hulle is drie houe voor Victor Perez (Frankryk), Chun-An Yu (China), die Skot Martin Laird, Min-Woo Lee (Australië) en nog ʼn Amerikaner Bridgeman Lee, wat almal saam vierde is op 203 (-10).

Suid-Afrika se Garrick Higgo, wat ná die tweede ronde tweede was, is saam 11de op 205 (-8) nadat hy 73 houe in die derde ronde aangeteken het.

Erik van Rooyen is op 207 (-6) saam 31ste.

Christiaan Bezuidenhout kon nie vir die laaste twee rondes kwalifiseer nie.

* Op die St. Francis Links- baan in die Oos-Kaap het die Suid-Afrikaanse aanslag in die derde ronde van die SDC-kampioenskap, wat deel is van die Dubai World Tour (Europese reeks), ook effe geskuif.

Die Skot Connor Syme en Daniel Brown van Engeland loop saam voor op 205 (-11) met Suid-Afrika se Robin Williams, James Nicholas (Amerika) en Andy Sullivan (Engeland) wat saam derde is op 207 (-9).

Die Amerikaner Jordan Gumbert en David Ravetto (Frankryk) is saam sesde op 208 (-8).

Van die ander Suid-Afrikaners wat steeds in die wedloop is, sluit in Jbé Kruger (210), Casey Jarvis en Thomas Aiken (albei 212), Louis de Jager en Malcolm Mitchell (albei 213), Shaun Norris, Thriston Lawrence en Daniel van Tonder (almal saam op 214) met Ockie Strydom en Oliver Bekker (albei 215) gevolg deur Nikhil Rama, Lyle Rowe, Keenan Davidse en Keagan Thomas almal saam is op 216.

Ryan van Velzen en Wilco Nienaber is albei op 217.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.