Cink leer jonges les

Hulle noem hom dalk die oupa van die toernooi, maar die 50-jarige Stewart Cink staan nie ʼn duit terug vir sy jonger teenstanders nie.(Foto: Julio Aguilar/Getty Images/AFP)

Hulle noem hom die oupa van die toernooi, maar die 50-jarige Stewart Cink het Vrydagaand in die tweede ronde van die Valspar-toernooi wat by die Innisbrook-vakansieoord in Palm Harbor, Florida, gespeel word, nie ʼn duit teruggestaan vir sy jonger teenstanders nie.

Cink, wat in 1996 die Mexikaanse Ope gewen het en 1997 in sy eerste jaar as groentjie in die Amerikaanse PGA-reeks die Greater Hartford-toernooi gewen het, het Vrydagaand 67 houe in die tweede ronde van die Valspar-toernooi aangeteken.

Hy is saam met die groentjie Chandler Phillips (69), Kevin Streelman (72), Brendon Todd (69) en Kanada se Mackenzie Hughes op 136 houe (-5) saam voor.

Cink, wat twee weke ’n gulde kans verbrou het om die Toerkampioenskap te wen, het die sterk wind in Palm Harbor getem.

Cink-hulle word deur nege spelers op 137 (-5) gevolg.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout is ook stewig in die saal en in die 13ste posisie op 138 (-4) nadat hy 69 houe in die tweede ronde aangeteken het.

ʼn Rits ander vooraanstaande spelers soos Jordan Spieth, Brian Harman, Tony Finau en Keegan Bradley kon nie die ongunstige toestande baasraak en vir die laaste twee rondes kwalifiseer nie.

* In die Amerikaanse LPGA-reeks vir vroue se Fir Hills Seri Pak-kampioenskap is Suid-Afrika se Ashleigh Buhai (138, -4) saam negende en slegs vier houe agter die voorloper, Malia Nam van die VSA (134, -8).

Die toernooi word by die Palos Verdes-buiteklub in Florida gespeel en het prysgeld van sowat R39 miljoen.

Nam word deur Madelene Sagstroem van Swede en Ruoning Yin van China gevolg op 135 (-7).

Buhai het rondes van 72 en 66 houe aangeteken.

* In die Stella Artois-spelerskampioenskap (Sonskynreeks) wat op Dainfern in Sandton gespeel word, loop Suid-Afrika se Heinrich Bruiners, Michael Hollick, Jaco Ahlers en Robson Chinhoi van Zimbabwe saam voor op 129 (-15) ná die tweede ronde.

Die voorlopers word deur sewe spelers gevolg wat op 130 houe (-14) in hul nekke blaas.

Hulle is Rourke van der Spuy, Keenan Davidse, MJ Viljoen, Jean Hugo, Callum Mowat, Hennie O’Kennedy en Haydn Porteous.

Wynand Dingle, JJ Senekal en Michael Konig (Engeland) is saam op 131 (-13).

Dingle het die tweede ronde in 61 houe voltooi en Senekal was ewe indrukwekkend met sy 62 houe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.