Geen keer aan Burmester

Dean Burmester, sy vrou en kinders. (Foto: Twitter)

Dean Burmester (-17) het die PGA-kampioenskap by die St. Francis Links-baan in die Oos-Kaap met twee houe gewen.

Engelsman Steve Surry het die laaste ronde met ʼn voorsprong van twee houe afgeslaan. Hy kon net gelyk aan baansyfer (72) speel en moes met die vierde plek tevrede wees.

Net sewe buitelandse spelers, wat nie Zimbabwiërs insluit nie, kon al sedert 1965 die PGA-kampioenskap wen. Aanvanklik is gedink Surry is onkeerbaar, maar Burmester het vanoggend met ander planne opgestaan. Hy is in Zimbabwe gebore, maar speel sy gholf vir Suid-Afrika.

Hy het voëltjies aangeteken op putjies nommer 1, 3, 4, 5 en 8 en ʼn arend op die sesde om die eerste nege putjies in 29 houe te voltooi. Daarna het die voëltjies opgedroog en hy het boonop ʼn brouhou aangeteken op die syfer 3 sewentiende putjie. ʼn Voëltjie op die agtiende het sy ronde van 65 houe, sewe beter as die baansyfer, afgerond. Pieter Moolman (-15) was tweede en Louis de Jager (-14) derde.

By die Mayakoba-toernooi op die Amerikaanse PGA-toer is die Suid-Afrikaner Garrick Higgo (-10) na die derde ronde in die gesamentlike 17de plek, nege houe agter die voorloper, Victor Hovland. Christiaan Bezuidenhout (-9) is in die gesamentlike 25ste plek en Charl Schwartzel (-6) in die gesamentlike 54ste plek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.