Gholf: Bruiners en Malnati se soet en suur

Heinrich Bruiners wen by die Dainfern-landgoed in Sandton. (Foto: Sonskynreeks/Facebook) 

Daar is nog baie plek vir sprokiesverhale, en ʼn paar tranetrekkers, in gholf.

By die Dainfern-landgoed in Sandton het Suid-Afrika se Heinrich Bruiners ná 11 jaar van swoeg, sweet, trane en swaarkry sy hoofstuk geskryf toe hy die Stella Artois-spelerskampioenskap in die Sonskynreeks gewen het.

Sondagaand by die Innisbrook-vakansieoord in Palm Harbor, Florida, het die 36-jarige emosionele Amerikaner Peter Malnati in Bruiners se voetspore getrap toe hy die Valspar-toernooi gewen het.

Dit het aan hom ʼn vrypas besorg om in vanjaar se Amerikaanse Meesterstoernooi te speel en vrywaring vir die volgende twee jaar in die Amerikaanse PGA-reeks.

Malnati was voor die toernooi slegs 184ste op die wêreldranglys en het nege jaar gelede laas ʼn toernooi (sy enigste) in die Amerikaanse PGA-reeks gewen.

* Bruiners het ná sy oorwinning by Dainfern gesê dat hy Sondagoggend om 01:30 wakker geword het met agt houe onder baansyfer in sy agterkop.

Dit het waar geword, want hy die laaste ronde in 64 houe (agt onder baansyfer) voltooi om Jaco Ahlers, Michael Hollick en Haydn Porteous (261, -27) uit te stof.

Suid-Afrika se Keenan Davidse (262, -26) was vyfde en Jacques Blaauw (263, -25) sesde.

Bruiners het drie voëltjies op die laaste drie putjies aangeteken en het op 260 houe (-28) geëindig.

Bruiners, wat laas in 2013 ʼn toernooi gewen het toe hy eerste was in die Vodacom Origins of Golf-toernooi, moes ernstige beserings wat hy in ʼn motorongeluk opgedoen het, oorkom voordat hy weer kon speel.

Volgens hom het hy nooit ophou glo nie, maar was dit uiters strawwe tye.

“Wanneer jy bo is, wil almal deel van jou oorwinning wees, maar daar is baie donker tye en selfondersoek om weer bo uit te kom,” het ʼn emosionele Bruiners in sy wennersonderhoud gesê.

* Malnati het die Valspar-toernooi met twee houe (272, -12) gewen nadat Cameron Young (274, -10) op die laaste putjie ʼn hou aan baansyfer afgestaan het.

Amerika se Chandler Phillips en die Kanadees Mackenzie Hughes was saam derde op 275 (-9).

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout het 67 houe in die laaste ronde aangeteken en saam sewende op 277 houe geëindig.

Hy het $237 300 (sowat R4,4 miljoen) met sy puik vertoning verdien.

* In die Amerikaanse LPGA-reeks vir vroue het die 26-jarige Amerikaner Nelly Korda weer die eerste plek op die vroue-ranglys by Lilia Vu (Amerika) oorgeneem toe sy die Fir Hills Seri Pak-toernooi na ʼn uitspeelstryd teen Ryann O’Toole (Amerika) gewen het.

Dit was Korda se tiende oorwinning in die reeks.

Korda, wat op die laaste twee putjies twee keer houe aan baansyfer afgestaan het, het O’Toole op die eerste uitspeelputjie uitgestof.

Korda en O’Toole het albei op 275 (-9) geëindig, met Gabriela Ruffels van Australië en die Amerikaner Allison Lee saam derde op 276 (-8).

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai het 74 houe in die laaste ronde aangeteken en op 284 houe saam 27ste geëindig.

Paul Reto het op 286 houe (+2) geëindig.

* Die Sweed Jesper Svensson het Sondagoggend die Singapoer Classic gewen toe hy Kiradech Aphibarnrat van Thailand in ʼn uitspeelstryd geklop het nadat albei op 272 houe (-17) geëindig het.

Sam Bairstow van Engeland was derde (273, -16), met sy landgenoot Andy Sullivan vierde (274, -15).

Oliver Bekker (279) het die beste van die Suid-Afrikaners in dié toernooi in die DP World Tour (Europese reeks) gevaar.

Casey Jarvis (281), Ockie Strydom (283), Xander Lombard (284), Jayden Schaper (287) en Thriston Lawrence (288) was verder terug.

Bronne: Sonskynreeks en The Golf Channel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.