Gholf: Clark en jong Venter in die kollig

Die VSA se Wyndham Clark tydens die Pebble Beach Pro Am in Kalifornië. (Foto: Christian Petersen / AFP)

Die kollig was veronderstel om helder te skyn op die twee voorste spelers op die wêreld-gholfranglys, die Amerikaner Scottie Scheffler en die Noord-Ier Rory McIlroy in die tweede ronde van die Spelerskampioenskap, maar toe stap Wyndham Clark daarmee weg.

Clark, die Amerikaanse Ope-kampioen, is by die halfpadmerk op Sawgrass in Ponte Vedra, Florida op 130 houe (-14) vier houe voor sy landgenoot Xander Schauffele en die Kanadees Nick Taylor (albei 134, -10).

Matthew Fitzpatrick (Engeland) en Maverick McNealy (Amerika) is saam vierde op 135 houe (-9).

Scheffler, wat tydens die ronde met ʼn seer nek gesukkel het en behandeling op die baan ontvang het, het op agt houe onder die baansyfer op 136 geëindig.

Scheffler, wat verlede week se Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi in die Amerikaanse PGA-reeks gewen het, is steeds in die wedloop om die eerste speler te word om twee opeenvolgende oorwinnings in Spelerskampioenskap te behaal, mits hy Clark kan inhaal.

McIlroy, wat vyf voëltjies in die tweede ronde aangeteken, was baie onbestendig, want hy het ook op vyf putjies houe aan baansyfer afgestaan en 73 houe aangeteken.

Hy is op 136 houe (-6) agt houe agter Clark ondanks 15 voëltjies wat hy in die reeds in die eerste twee rondes behaal het.

Van die Suid-Afrikaners het Christiaan Bezuidenhout met rondes van 69 en 70 in die wedloop gebly en is hy op 139 (-5) saam 22ste.

Erik van Rooyen is op 145 houe (+4), maar Garrick Higgo het hom ná die eerste ronde onttrek nadat hy 73 houe aangeteken het.

* Op Royal Cape in Kaapstad het die 19-jarige Gabrielle Venter die Suid-Afrikaanse Ope vir vroue voor die ervare 37-jarie Kylie Henry van Skotland weggeraap.

Henry, wat ná die eerste twee rondes voorgeloop het, spog reeds met twee oorwinnings in die Europese reeks, maar sy het in die derde ronde 74 houe aangeteken en haar voorsprong aan Venter afgestaan.

Venter, wat ʼn lid is van die Bloemfonteinse gholfklub, het met een hou gewen nadat sy op 213 houe (-8) geëindig het. Sy is deur Henry en die Franse speler Emie Peronnin (albei op 214) gevolg.

Verena Gimmy van Duitsland en Harang Lee van Spanje was saam vierde op 217.

Van die ander ervare Suid-Afrikaners was Nicole Garcia (221), Stacy Bregman en Casandra Alexander (albei 223) verder terug.

Bronne: BBC en Sonskynreeks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.