Gholf: Clarke skitter; son skyn helder op SA spelers

Die VSA se Wyndham Clark tydens die Pebble Beach Pro Am in Kalifornië. (Foto: Christian Petersen / AFP)

Die Amerikaner Wyndham Clarke het Saterdagaand op Pebble Beach in Kalifornië nie net die baanrekord van 60 houe in die derde ronde van die Pebble Beach Pro Am laat spat nie, maar ook na vore geskiet om die voortou te neem.

Clarke, wat verlede jaar die Amerikaanse Ope gewen het, het vier voëltjies en twee arende oor die eerste nege putjies behaal om 28 houe op sy telkaart in te vul. Hy het dit opgevolg met ʼn voëltjie op die 18de putjie nadat hy met sy arendsethou misluk het wat aan hom ʼn magiese 59 houe sou besorg het.

Hy het die ronde nietemin in 60 houe (12 houe onder die baansyfer) voltooi en het op 199 houe (-17) in die klubhuis geëindig.

Die vorige baanrekord van 62 houe is deur Tom Kite in 1983 opgestel en is in 1997 deur David Duval, Patrick Cantlay in 2021 en Matthias Schwab in 2022 geëwenaar.

Suid-Afrika se Erik van Rooyen tydens die Pebble Beach Pro Am in Kalifornië. (Foto: Christian Petersen / AFP)

Die jong Sweed Ludvig Aberg, wat ná die tweede ronde saam voor was, is een hou agter Clarke op 200 houe (-16), gevolg deur die Fransman Matthieu Pavon op 201 (-15) en Thomas Detry van België en Max Hubbard (Amerika) albei op 202 (-14).

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout en Erik van Rooyen het albei op 207 (-9) geëindig.

* By die Royal-buiteklub in Bahrein slaan Suid-Afrika se Dylan Frittelli Sondag as die voorloper af in die laaste ronde van die Bahrein-kampioenskap, wat deel is van die DP World Tour.

Frittelli het Saterdag se derde ronde in 69 houe voltooi en het op 204 (-12) geëindig.

Hy is twee houe voor sy landgenoot Ockie Strydom (206, -10) gevolg deur Jesper Svensson van Swede op 207 (-9).

Suid-Afrika se Zander Lombard is ook stewig in die wedloop op 209 (-7), met sy landgenote Darren Fichardt (212, -4) en Jacques Kruyswijk (215, -1) ook op die balansstaat.

* By die Zebula-landgoed in Limpopo stuur die vierde en laaste ronde van die SDC-ope, wat deel is van die Sonskynreeks, op ʼn tweestryd tussen Suid-Afrika se Wilco Nienaber en Louis Albertse af.

Nienaber het in die derde ronde 64 houe aangeteken en Albertse het dit met 65 houe opgevolg om gesamentlik die voortou op 197 houe te neem.

Hulle is op -19 een hou voor die Wallieser Rhys Enoch (198, -19).

Enoch word deur George Bloor en Chris Paisley (albei van Engeland), Angel Ayora van Spanje en Suid-Afrika se Jbé Kruger en Gerhard Pepler gevolg, wat almal saam op 201 houe (-15) klaargemaak het.

Lyle Rowe (203, -13) het vroeër Saterdag die voortou in die klubhuis geneem toe hy 63 houe aangeteken het, terwyl Nikhil Rama (205, -11) die tweede nege putjies in 29 houe voltooi het en 65 houe aangeteken het.

Bronne: Sonskynreeks en The Golf Channel

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.