Gholf: Daar’s ‘n wind wat (in Gqeberha) waai

Lee Slattery van Engeland tydens ʼn vorige spel in Pebble Beach, Kalifornië (Junie 2019) (Foto: Christian Petersen/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Wanneer die wind die dag in Gqeberha behoorlik waai, dan waai hy jou weg.

Dit was die geval in Saterdag se derde ronde van die Sonskynreeks se NMB-kampioenskap, wat op die Humewood-gholfbaan gespeel word.

Die spelers het ʼn groot deel van die dag in die klubhuis deurgedring en die eerste driebal kon eers om 14:15 afslaan toe dit effe kalmer begin raak het.

Spel is om 19:10 opgeskort toe dit te donker geraak het, met Australië se Hayden Hopewell, Engeland se Lee Slattery en Noord-Ierland se Jonathan Caldwell saam voor op nege houe onder die baansyfer, hoewel al drie van hulle nog nie die eerste nege putjies voltooi het nie.

Spel is Sondagoggend om 07:00 hervat wanneer die derde ronde afgehandel sal word.

* Op die Vidanta Vallarta-baan in Mexiko byt Suid-Afrika se Erik van Rooyen vas in die Mexiko-Ope, wat deel is van die Amerikaanse PGA-reeks.

Van Rooyen is ná die derde ronde saam sesde nadat hy 70 houe aangeteken het en op 202 houe (-11) in die klubhuis geëindig het.

Die Amerikaner Jake Knapp is met vier houe op 194 houe (-19) voor nadat hy tellings van 67 64 en 63 houe in die eerste drie rondes aangeteken het.

Knapp word deur Sami Valimakai van Finland op 198 houe (-15) gevolg, met Chan Kim (Amerika), Henrik Norlander (Swede) en die Kandees Benjamin Silverman saam derde op 201 (-12).

* In die DP World Tour (Europese reeks) se Kenia-Ope wat by die Muthaiga-buiteklub gespeel word, is Suid-Afrika se Ryan van Velzen (205, -8) ná die derde ronde stewig in die wedloop en net twee houe agter die voorlopers, Manuel Elvira (Spanje) en Darius van Driel (Nederland) wat albei op 203 (-10), geëindig het.

Die Skot Conor Syme en Joseph Dean (Engeland) is saam met Van Velzen derde op 205.

Van die ander Suid-Afrikaners het Louis de Jager (207, -6), Thriston Lawrence (208), Jacques Kruyswijk (209) en Jayden Schaper en Pieter Moolman (albei 210, -3) ook skaflik gevaar.

* In die Europese vroue-reeks se Lalla Meryem-kampioenskap wat in Rabat in Marokko beslis is, het Suid-Afrika se Casandra Alexander saam 13de op 216 (-3) geëindig.

Die toernooi is deur Bronte Lawe (Engeland) gewen, wat die derde en laaste ronde in 64 houe voltooi het en op 206 (-13) klaargemaak het.

Law is in die tweede plek gevolg deur Frankryk se Pauline Bouchard op 209 (-10) met Fatima Fernandez van Spanje en Maria Fassi van Portugal saam derde op 210 (-9).

Van die ander Suid-Afrikaners het Nicole Garcia op 218 (-1) geëindig, met Cara Gorlei op 223 (+4).

Bronne: Sonskynreeks en BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.