Gholf: Deurdringende reën maak Skotse bane onspeelbaar

Argieffoto (Foto: Rudy and Peter Skitterians/Pixabay)

Die laaste ronde van die Dunhill Links-gholftoernooi wat op St. Andrews, Kingsbarn en Carnoustie in Skotland beslis word, sal nou eers Maandag gespeel word nadat al drie bane Saterdag onspeelbaar was toe dit die hele dag gereën het.

Die derde ronde is na Sondag geskuif waarna die top-60 beroepspelers en 20 beste spanne, wat amateurs insluit, in Maandag se laaste ronde op St. Andrews om prysgeld van bykans R96 miljoen meeding.

Die Engelsman Matthew Fitzpatrick loop ná die tweede ronde op -13 voor en word op -12 gevolg deur die Skot Grant Forrest en Nacho Elvira van Spanje.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Sanderson Farms-toernooi wat by die Jackson-buiteklub in Tennessee gespeel word, is die twee Suid-Afrikaners Christiaan Bezuidenhout en Erik van Rooyen saam tiende op 203 houe (-13) maar sewe houe agter die voorloper, Ben Griffen van Amerika.

Griffen, wat 63 houe in die tweede ronde aangeteken het, het dit met 66 houe opgevolg en is op 196, 20 houe onder die baansyfer.

Griffen word in die tweede posisie gevolg deur Carl Yuan van China, die Amerikaner Luke List en Henrik Norlander van Swede, wat almal op 199 houe (-17) in die klubhuis geëindig het.

Van die ander Suid-Afrikaners is Garrick Higgo en Dylan Frittelli saam 62ste op 211.

* In die Aramco-spantoernooi vir vroue wat in Hongkong beslis word, het Lee-Anne Pace en Nicole Garcia van Suid-Afrika stewig in die tweede ronde gevaar.

Hulle het albei op 143 (-3) geëindig en is saam 11de.

Xiyu Lin van China en Jin-Young Ko van Suid-Korea is saam voor op 135 (-11) en word gevolg deur Nederland se Anne van Dam (136, -10) met Stephanie Kyriacou van Australië en Nuria Itirioz van Spanje wat saam vierde op 137 (-9) is.

* In die plaaslike Sonskynreeks se Fortress-uitnodigingstoernooi wat op die Glendower-baan in Edenvale gespeel word, loop Robin Williams ná die derde ronde met vier houe voor op 201 houe (-15).

Williams, 22, speel in slegs sy 22de toernooi. Hy het ses voëltjies in sy derde ronde aangeteken en het slegs op twee putjies houe aan baansyfer afgestaan.

Williams is vier houe voor Michael Hollick (205, -11) met Danie van Niekerk op 206 (-10), gevolg deur Nikhil Rama en Estiaan Conradie op 207 (-9) en Heinrich Bruiners  op 208 (-8).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.