Gholf: Dis dalk Fichardt se goue kans

Darren Fichardt (Foto: Darren Fichardt/Facebook)

Hulle sê mos die pad na goud loop deur die Midde Ooste. Wel, as Suid-Afrika se Darren Fichardt Sondag in Doha kan kophou in die laaste ronde van die Katar Meesters kan hy R3,7 miljoen in sy sak steek.

Fichardt is op 206 houe, een hou voor die Engelsman Jack Senior ná die derde ronde van dié toernooi.

Hulle word gevolg deur die Indiër Gaganjeet Bhullar (208) en dan die Fransman Antoine Rozner, Joachim B Hansen van Denemarke en die Wallieser Jamie Donaldson.

Van die ander Suid-Afrikaners kan Shaun Norris (212), Garrick Higgo (214) en Justin Walters (215) ook hul bankbalanse verstewig.

Fichardt gedy in die wind en nadat hy 68 en 68 houe in die eerste twee rondes aangeteken het, het hy dit met 70 houe in moeilike omstandighede in die derde ronde opgevolg.

*  In Florida in die VSA stuur die Spelerskampioenskappe op ʼn tweestryd af tussen die 47-jarige Lee Westwood (Engeland) en Bryce DeChambeau (Amerika) af in Sondagaand se laaste ronde.

Westwood, wat na sy eerste titel in die PGA-reeks in 11 jaar mik, is op 203 houe (13 minder as die baansyfer) twee houe voor DeChambeau (205).

Hulle word gevolg deur Justin Thomas en Doug Ghim (albei op 206).

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout (213) is 27ste, gevolg deur Dylan Frittellii (215) en Louis Oosthuizen (216).

* Op die Dainfern-baan in Fourways is drie spelers, Daniel van Tonder, Jaco Prinsloo en Oliver Bekker (al drie op 198) met twee houe voor ná die derde ronde van die Sonskynreeks se Spelerskampioenskappe.

Jaco Kruyswijk en Jake Roos is albei op 200 houe in die gesamentlike vierde posisie gevolg deur die Duitser Fredrik From, Alex Haindl, Anthony Michael, Michael Hollick en Jean Hugo (almal op 201).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.