Gholf: Dit hou aan reën in Skotland

(Foto: Alfred Dunhill Links Championship/Facebook)

Wanneer die sluise in Skotland ooptrek, kan die gholfstokke maar in die motor se bagasiebak gehou word.

Die organiseerders van die Dunhill Links-toernooi moes noodgedwonge Saterdag se derde ronde na Sondag verskuif nadat die drie bane waarop daar gespeel word, St. Andrews, Carnoustie en Kingsbarns, oorstroom is.

Maar Sondag het dit steeds gereën en is daar besluit om die toernooi tot 54 putjies in te kort, met die derde en laaste ronde wat Maandag gespeel word, as die weer dit toelaat.

Matthew Fitzpatrick van Engeland is op -13 voor, met Skotland se Grant Forrest en Nacho Elvira van Spanje saam tweede op -12 in dié geldryke toernooi (prysgeld byna R118 miljoen) in die Europese reeks en DP World Tour.

In die Pro-am-afdeling is Fitzpatrick en sy ma, Susan, tweede agter die Fransman Julien Guerrier en Stephane Connery, die stiefseun van James Bond, Sean Connery.

Christiaan Bezuidenhout in aksie (Foto: Raj Mehta/Getty Images via AFP)

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Sanderson Farms-kampioenskap wat by die Jackson-buiteklub in Tennessee gespeel is, het Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout sesde (271,-17) geëindig, hoewel hy net een hou agter die vyf gesamentlike voorlopers geëindig het.

Die toernooi is deur die Amerikaner Luke List gewen (270, -18) wat sy landgenote Scott Stallings en Ben Griffin en die twee Swede Henrik Norlander en Ludvig Aaberg in ʼn uitspeelstryd geklop het.

Bezuidenhout, wat tellings van 69, 66, 68 en 68 houe aangeteken het, het saam met Carl Yuan van China en Mark Hubbard van die VSA op 271 houe geëindig.

Van die ander Suid-Afrikaners het Erik van Rooyen en Garrick Higgo ook stewig gevaar en saam op 276 houe (-12) in die klubhuis geëindig.

Bezuidenhout het 276 550 Amerikaanse dollar (sowat R5.4 miljoen) verdien.

* In die plaaslike Sonskynreeks het die 22-jarige Robin Williams sy Sonskynreeks-rekening geopen toe hy die Fortress-uitnodigingstoernooi, wat op die Glendower-baan in Edenvale gespeel is, maklik met ses houe gewen het.

Williams, wat in die laaste ronde met ʼn voorsprong van vier houe afgeslaan het, het 68 houe in die laaste ronde aangeteken en op 269 houe (-19) geëindig.

Dit het vier voëltjies op vyf putjies tussen die 5de en 9de ingesluit wat sy oorwinning verseël het.

Die Amerikaner Dan Erickson was tweede (275, -13) nadat hy ʼn albatros (drie houe onder baansyfer) op die vierde putjie (syfer 5) aangeteken het.

Volgens die Sonskynreeks is Erickson gevolg deur Suid-Afrika se Danie van Niekerk (278, -10) met Jacques P de Villiers, Nikhil Rama en Michael Hollick saam vierde op 279 (-9).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.