Gholf: Easton byt vas in Spanje

Argieffoto.

Die Suid-Afrikaner Bryce Easton (-10) het ʼn teleurstellende derde ronde by die Majorka-ope in Spanje gespeel.

Ná sy eerste twee rondes van onderskeidelik 63 en 67, het hy die derde ronde in 70 houe, gelyk aan baansyfer voltooi. Hy is nou in die gesamentlike sesde plek, vyf houe agter die voorloper Jeff Winther (-15) van Denemarke. Winther is twee houe voor Jorge Campillo (-13) van Spanje.

Terwyl spelers soos Winther gister die voëltjies ingeryg het in sy ronde van 62 houe, kon Easton net twee voëltjies aanteken, maar dis ongedaan gemaak deur twee brouhoue.

Easton se landgenoot, Zander Lombard (-6), is in die gesamentlike 14de plek.

Op die Amerikaanse PGA-toer het die Suid-Afrikaner Branden Grace (-5) in die gesamentlike sewende plek klaargemaak. Hideki Matsuyama (-15) het met ʼn arend op die laaste putjie gesorg dat die tuisskare breed glimlag by die Zozo-kampioenskap in Chiba, Japan. Hy het die toernooi in sy geboorteland met vyf houe gewen.

Die Amerikaners Brendan Steele en Cameron Tringale was gesamentlik in die tweede plek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.