Gholf: Jong Åberg rooiwarm op Pebble Beach

Die jong Sweed Ludvig Aberg. (Foto: Karim Sahib/AFP)

Die borrelende talent van die jong Sweedse gholfspeler Ludwig Åberg het Vrydagaand op Pebble Beach in Kalifornië oorgekook toe hy die voortou saam met die wêreld se voorste gholfspelers Scottie Scheffler en Thomas Detry van België in die tweede ronde van die Pebble Beach-toernooi geneem het.

Die 24-jarige Åberg het 68 houe in die eerste ronde aangeteken en dit met 65 houe in die tweede ronde opgevolg om saam met Scheffler en Detry op 133 houe (-11) te eindig.

Wat Åberg se prestasie merkwaardig maak, is dat dit die eerste keer as ʼn beroepspeler was dat hy op Pebble Beach in ʼn toernooi gespeel het.

Hy het weliswaar twee keer op Pebble Beach gespeel terwyl hy aan Texas Tech gestudeer het, maar het elke keer gesukkel om die baan baas te raak.

Åberg het slegs ʼn paar weke gelede die dienste van die ervare Joe Skovron as joggie bekom, wat voorheen Rickie Fowler se sak gedra het.

Die nuwe vennootskap het reeds verlede week op Torrey Pines vrugte begin afwerp toe Åberg tiende geëindig het.

Die Amerikaner Patrick Cantlay is derde op 134 (-10) gevolg deur die Fransman Matthieu Pavon (wat verlede week op Torrey Pines gewen het), Emiliano Grillo van Argentinië en Justin Thomas van Amerika wat saam op 135 (-9) geëindig het.

Die twee Suid-Afrikaners Christiaan Bezuidenhout en Erik van Rooyen het albei saam in die 23ste posisie op 139 houe (-5) geëindig.

* In vanjaar se eerste LIV-toernooi wat in Mayakoba in Cancun, Mexiko, gespeel word, is daar baie groot belangstelling in die vertoning van die Spanjaard Jon Rahm, wat in sy eerste toernooi in die reeks speel.

Rahm het op -5 houe onder die baansyfer geëindig en is sewe houe agter die voorloper, Joaquin  Niemann (Chile) wat op -12 geëindig het.

Niemann word deur die Amerikaner Patrick Reed (-7) gevolg, met die Spanjaard Sergio Gercia op -6.

Dean Burmester (-4) het die beste van die Suid-Afrikaners gevaar, met Charl Schwartzel en Louis Oosthuizen (albei -1) en Branden Grace (+2).

In die spanafdeling loop Torque (-13) voor, gevolg deur Cleeks en 4Aces (albei -8), met die Suid-Afrikaanse Stinger-span saam met Ripper op (-6).

* Op die Royal-gholfbaan in Bahrein loop Suid-Afrika se Dylan Frittelli saam met Joel Girrbach van Switserland en Jesper Svensson (Swede) voor op 135 houe (-9) ná die tweede ronde van die Bahrein-kampioenskap.

Die toernooi is deel is van die Dubai World Tour.

Frittelli, wat 67 houe in die eerste ronde aangeteken het, het dit Vrydagmiddag met 68 houe in die tweede ronde opgevolg.

Die Spanjaard Alejandro Del Rey is derde op 136 (-8) met Suid-Afrika se Ockie Strydom, Harrison Endycott (Australië), Jamie Donaldson (Wallis) en die twee Franse Tom Valiant en Jullien Guerrier saam vyfde op 137 (-7).

Hulle word deur Zander Lombard (138, -6) gevolg in die tiende posisie.

Die ander Suid-Afrikaners Darren Fichardt (139), Jaques Kruyswijk (-3 op die 17de), Casey Jarvis (146), Louis de Jager (147) en Brandon Stone en Jaco Prinsloo (albei 149) neem ook deel.

* In die plaaslike Sonskynreeks se SDC-Ope wat by die Zebula-landgoed in Limpopo gespeel word, loop die Fransman Alexander Levy, Suid-Afrika se Louis Albertse en die Wallieser Rhys Enoch saam voor op 132 houe (-12) ná die tweede ronde.

Suid-Afrika se Wilco Nienaber is op 133 (-11) gevolg deur sy landgenote Malcolm Mitchell, Gerhard Pepler en Jbé Kruger, asook Curtis Knipes (Engeland) en Angel Ayora (Spanje), wat almal saam op -10 is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.