Gholf: Palmer kon nie vir beter gevra het nie

Die VSA se Brian Harman vaar goed in die Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi wat tans in Orlando, Florida gespeel word. (Foto: Mike Ehrmann / AFP)

Dit is ʼn droomdraaiboek, een wat die Amerikaanse gholflegende Arnold Palmer, wat in 2016 oorlede is, trots sou gelaat het.

Ses van die wêreld se beste spelers, onder wie die voorste speler op die wêreldranglys, asook vier ander wenners van Major-toernooie, het saam voorgeloop ná die tweede ronde van een van die glanstoernooie van die reeks.

By die Bay Hill-buiteklub in Orlando, Florida, loop vier Amerikaners, Scottie Scheffler, Wyndham Clark, Brian Harman en Russell Henley, asook Hideko Matsuyama van Japan en Shane Lowry van Ierland saam voor ná die tweede ronde van die Arnold Palmer-uitnodigingstoernooi met prysgeld van $20 miljoen (R82 miljoen).

Lowry was die vroeë voorloper in die klubhuis, maar namate die dag water begin trek het, het Scheffler, die wêreld se huidige beste speler, met ʼn arend en ʼn voëltjiesethou van 12 m hom ingehaal.

Clark, die Amerikaanse Ope-kampioen, het op vyf van die laaste ses putjies voëltjies behaal om hom ook by hulle aan te sluit.

Die sestal het almal op 137 houe (-7) geëindig. Dit is die grootste bottelnek van voorlopers ná 36 putjies in die Amerikaanse PGA-reeks sedert 2011, toe sewe spelers ná die tweede ronde in die Texas-Ope voorgeloop het.

Will Zalatoris is sewende op 138 (-6) met Stephan Jeager (Duitsland) en Emiliano Grillo (Argentinië) saam agtste op 139 (-5). Suid-Afrika se Erik van Rooyen is in die 42ste posisie op 145 (+1), gevolg deur Christiaan Bezuidenhout op 147 (+3).

* Op die Glendower-baan in Edenvale het die Italianer Matteo Manassero die voortou ná die tweede ronde van die Jonsson Workwear-toernooi geneem wat deel is van die Dubai World Tour en die Sonskynreeks.

Manassero het die eerste nege putjies in slegs 28 houe voltooi, wat twee arende ingesluit het. Hy het die tweede nege in 33 houe voltooi om op 61 houe af te sluit.

Hy loop op -15 met een hou voor Suid-Afrika se Oliver Bekker, wat gevolg word deur Tom McKibbin van Noord-Ierland en die twee Spaanse spelers Angel Hidalo en Ivan Cantero, wat albei op -13 klaargemaak het.

Suid-Afrika se Shaun Norris en Jordan Smith van Engeland is saam op -12, gevolg deur Suid-Afrika se Casey Jarvis, die Fransman Ugo Coussaad en die Deen Niklas Norgaard, wat almal op 133 (-11) is.

* In die LIV-reeks se Hongkongse toernooi was Suid-Afrika se Dean Burmester saam met die Meksikaan Abraham Ancer op 63 houe voor ná die eerste ronde.

Hulle is op 64 houe, gevolg deur Suid-Afrika se Louis Oosthuizen, Charles Howell III, Eugenio Chaccarro van Spanje, Harold Varner III, Matt Jones en Martin Kaymer.

Branden Grace het 67 houe aangeteken en Charl Schwartzel het gelyk aan baansyfer geëindig.

In die spanafdeling het die Suid-Afrikaners se Stinger-span voorgeloop. 

Bronne: Sonskynreeks en Golf Channel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.