Gholf: Schauffele steek Clark verby, Scheffler en McIlroy beur ook na vore

Patrick Cantlay en Xander Schauffele tydens ‘n vorige spel (Februarie 2024) (Foto: Michael Reaves/Getty Images/AFP)

Die tafel is op TPC Sawgrass gedek vir ’n opwindende laaste ronde van die Spelerskampioenskap wat die vlagskiptoernooi van die Amerikaanse PGA-gholfreeks is.

Die Amerikaner Xander Schauffele, wat twee jaar laas ʼn toernooi kon wen, is in Ponte Vedra, Florida op 199 houe (-17) een hou voor die huidige Amerikaanse Ope-kampioen Wyndham Clark (200, -16).

Die huidige Britse Ope-kampioen, Brian Harman is derde op 201 (-15).

Die wêreld se voorste speler op die ranglys, Scottie Scheffler, wat steeds met ʼn seer nek sukkel, blaas in hul nekke op 204 (-12).

Die wêreld se tweede voorste speler op die ranglys, Rory McIlroy van Noord-Ierland, het op 209 (-9) in die klubhuis geëindig. McIlroy het met drie opeenvolgende voëltjies oor die laaste drie putjies na vore geskiet.

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout is 12de op 207 (-9) en het beslis ʼn kans om sy bankbalans ’n stewige hupstoot te gee.

Schauffele het sewe voëltjies in sy derde ronde van 65 houe aangeteken om Clark, wat met ʼn voorsprong van vier houe voor hom afgeslaan het, ingehaal en verbygesteek het.

Clark, wat 70 houe in die derde ronde aangeteken het, het op die 17de putjie verbrou toe hy sy bal in die water geslaan het en hy met ʼn strafhou moes uitgooi.

Die linkshandige Harman het 64 houe, die beste van die dag, aangeteken is beslis ook in die wedloop, asook Scheffler, wat netsoos McIlroy met drie agtereenvolgende voëltjies afgesluit het en 68 houe aangeteken het.

Die toernooi het die hoogste prysgeld van $25 miljoen dollar (bykans R468 miljoen) in die Amerikaanse reeks met die wenner wat $4.5 miljoen (R84 miljoen) in sy bankrekening sal stort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.