Gholf: Wanneer die Bokke speel, braai Louis-hulle

Louis Oosthuizen (Foto: Quinn Harris/Getty Images/AFP)

Wanneer die Springbokke rugby speel, steek hulle ook die vonk aan by Louis Oosthuizen en sy drie Suid-Afrikaanse spanmaats in die LIV-gholfreeks.

Oosthuizen, Dean Burmester, Charl Schwartzel en Branden Grace huur gewoonlik saam ʼn huis tydens ʼn toernooi en daar word elke aand vleis gebraai en oor die Bokke gesels.

Dis weer sulke tyd in Chicago in die LIV-reeks waar Oosthuizen op 66 houe (-5) saam met Spanje se Sergio Garcia, Jediah Morgan, Anirban Lahiri en Sebastian Muñoz ná die eerste van drie rondes voorloop.

Burmester en Schwartzel (albei -4) en Grace (-2) het ook uitstekend gevaar.

Die Suid-Afrikaanse Stinger-span, wat in die afgelope drie toernooie derde geëindig het, is op -13 een hou voor die Fireballs en Crushers (-12) in die spanafdeling, gevolg deur die Rippers op -11.

* In Spanje het die Europese Solheimbeker-vrouespan Vrydagmiddag in Finca Cortesin teruggeveg toe hulle die middag se viertalle met 3-1 teen Amerika gewen het.

Die Amerikaners het Vrydagoggend met 4-0 ná die eerste vier wedstryde voorgeloop, maar die Europeërs het twee van die middag se vier wedstryde gewen, terwyl twee gehalveer is.

Die eerste dag is op 5-3 in Amerika se guns afgesluit.

Die hoogtepunte van die Europeërs se terugvegpoging was die kolhou wat Emily Pedersen van Denemarke op die 16de putjie behaal het en die arend wat die Ier Leona Maguire op die 18de putjie aangeteken het.

Pedersen se kolhou was slegs die tweede in die Solheimbeker-reeks.

Pedersen en haar speelmaat Maja Stark (Swede) was nooit voor in hul wedstryd teen Jennifer Kupcho en Alissen Corpuz nie, maar Stark het op die 18de putjie ʼn lang sethou ingerol om die wedstryd te halveer.

Die Europeërs se terugvegpoging is deur die Spanjaard Carlota Ciganda en Swede se Linn Grant ingelui wat met 4-2 teen Amerika se Angel Yin en Ally Ewing gewen het.

Maguire en Georgia Hall (Engeland) se wedstryd teen Lexi Thomson en Lilia Vu is op die 18de putjie gehalveer.

So ook Skotland se Gemma Dryburgh en Madelene Sagström van Swede se wedstryd teen Rose Zhang en Megan Khang.

* In die Europese reeks en DP World Tour se Franse Ope wat by Le Golf National gespeel word, was Suid-Afrika se Zander Lombard baie bestendig. Hy is op 135 houe (-7) op die spoor van die voorloper, Jordan Smith van Engeland.

Lombard, wat 67 houe in die eerste ronde aangeteken het, het dit met 68 houe in die tweede ronde opgevolg.

Smith het 64 houe in die tweede ronde aangeteken en loop op 130 houe (-12) met drie houe voor die Skot Ewen Ferguson (133, -9) met Lombard, Richard Mansell (Engeland), Roy Hisatune (Japan), Julien Bru (Frankryk), Yannik Paul (Duitsland) en Nicholaas Hojgaard (Denemarke) saam derde.

Van die ander Suid-Afrikaners is Louis de Jager (139, -3), Bryce Easton (140) en Thriston Lawrence en Hennie du Plessis (albei 141) ook stewig in die saal.

* In die plaaslike Sonskynreeks se PGA-kampioenskap wat by die St. Francis Links in die Oos-Kaap gespeel word, loop Peter Karmis op 136 houe (-8) met drie houe voor ná die tweede ronde.

Karmis (Griekeland) is met drie houe voor Suid-Afrika se Adam Breen en Keegan Mclachlan, wat albei op 139 houe (-5) in die klubhuis geëindig het.

Die veteraan Jaco van Zyl (70) is vierde op 140 houe (-3), gevolg deur Robin Williams en ʼn rits ander spelers.

Williams, wat die oornagvoorloper saam met Mclachlan was, het 74 houe in die tweede ronde aangeteken en is saam met Rupert Kaminski (73), Ryan van Velzen en Matthew Pacey (72) almal op 141 (-2).

Die toernooi sou Sondag met die vierde en laaste ronde geëindig het, maar die organiseerders het besluit om twee rondes Saterdag in te pas, aangesien stormsterk winde vir Sondag voorspel word wat spel byna onmoontlik gaan maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.