Gholfsensasie Kiera Floyd aan die brand

Die Oos-Randse tiener-gholfsensasie Kiera Floyd is op koers om haar eerste sege as ʼn beroepspeler agter haar naam te skryf. (Foto: WAGR)

Die Oos-Randse tiener-gholfsensasie Kiera Floyd is op koers om haar eerste sege as ʼn beroepspeler agter haar naam te skryf.

Die19-jarige Serengeti-ster was een van drie voorlopers ná dag een van die ADT Fidelity-uitdaagtoernooi, wat op die Blue Valley-landgoed buite Centurion beslis word.

Floyd, die Sweed Ellen Hutchinson-Kay en Georgia Coughlin van Engeland het al drie tellings van 68 houe (-4) op hul telkaarte ingevul in bitter warm weersomstandighede wat die deelnemers laat sweet en hul uithouvermoë behoorlik getoets het.

Ses buitelandse spelers, onder wie Romy Meekers van Nederland en die Duitser Carolin Kauffmann, deel op -3 die gesamentlike vierde posisie, met ʼn groep van 11 spelers, wat die SA spelers Stacy Bregman en Lara Assad insluit, op -2 in die gesamentlike tiende plek.

Altesame 27 uit 61 deelnemers het die baansyfer van 72 van die uitdagende Gary Player-uitleg oortref en is almal steeds sterk in die wedloop om glorie.

“Vandag [Woensdag] was ʼn goeie dag. Ek het die balletjie baie goed geslaan en myself hope kanse gegee.

“Dit is ʼn baan wat die langslaners bevoordeel en daar is baie oop ruimtes, so ʼn mens kan laat waai van die bof af,” het Floyd ná haar openingsronde gesê, wat vyf voëltjies en ʼn brouhou behels het.

Die Oos-Randse geldspeler se vertoningslys as ʼn amateur is ongelooflik en ellelank wat titels betref.

Sy was as negejarige die Benoni-buiteklub se vrouekampioen, het as 14-jarige derde in die Sonskynreeks se Jabra Classic geëindig en in 2022 as 17-jarige die Suid-Afrikaanse houespeltitel verower.

“Ek het twee glipsies gehad wat my houe gekos het, maar dit is maar hoe dinge werk. Daar is eenvoudig nie tyd om te tob oor foute op hierdie vlak nie en dit is kophou en aanstoot as jy sukses wil behaal,” het Floyd agterna gesê.

Hutchinson-Kay het aan die Mississippi-universiteit gestudeer en die 25-jarige Sweed het dus heelwat ondervinding van mededingende gholf op van die hoogste vlakke.

Sy het Woensdag vier voëltjies binne vyf putjies vanaf die 14de aangeteken om haar aanslag op koers te kry.

Die 28-jarige Coughlin het eers as 16-jarige die spel opgeneem. Sy het op 23 die eerste keer haar Europese spelerskaart verwerf.

Haar eerste ronde het ses voëltjies en twee brouhoue ingesluit en sy is beslis ʼn groot bedreiging vir enigiemand wat wendrome koester.

Die wenners van die eerste twee toernooie in die Sonskyn-vrouereeks, Kylie Henry (73) en Tvesa Malik (74), het teen die verwagtinge in Woensdag gesukkel en sal oor die laaste twee rondes moet uithaal indien hulle weer Vrydag in die wenkampie wil klaarmaak.

  • Bykomende inligting: Sunshine Ladies Tour

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.