Gholfspelers hou die weer dop

Suid-Afrika se Branden Grace. Foto: Andy Lyons/Getty Images/AFP.

Daar wag ʼn paar uitputtende en senutergende dae op van die wêreld se voorste gholfspelers, veral as die weer nie gaan saamspeel nie.

Die tweede ronde van die Memorial-toernooi wat in Dublin (Ohio) in die Amerikaanse PGA-reeks beslis word, kon Vrydagaand (Suid-Afrikaanse tyd) weer nie afgehandel word vanweë die reën nie.

Branden Grace kon darem 31 putjies in die hitte en hoë humiditeit inpas om die eerste twee rondes op 140 houe te voltooi, wat net vier houe agter die voorloper Patrick Cantlay (136, -8) van Amerika is.

Cantlay is een hou voor die Spanjaard Jon Rahm (-7), wat op die 13de putjie is, met Scottie Scheffler (-6) derde.

Grace het rondtes van 68 en 72 houe gespeel.

Charl Schwartzel (-3) is ʼn rapsie verder terug met Louis Oosthuizen (143) en Christiaan Bezuidenhout (gelyk aan syfer) nog verder terug.

Die groot problem is dat Grace Maandag, net soos ʼn hele paar ander spelers, op sy tuisbaan in Suid-Florida gaan probeer om vir aanstaande week se Amerikaanse Ope te kwalifiseer.

* In die Amerikaanse Ope vir vroue wat by die Olympia-buiteklub in San Francisco gespeel word, loop Yuka Saso van die Filippyne op 136 houe voor ná die eerste twee rondes nadat sy rondtes van 69 en 67 aangeteken het.

Jeongeun Lee6 van Korea is tweede (137) met die twee Amerikaners Megan Khang en Megha Ganne saam derde op 138.

Suid-Afrika se Lee-Anne Pace is 47ste op 147.

* Suid-Afrika se Caitlin McNab (141) is vyf houe agter die voorlopers Olivia Cowan (Duitsland) en Annabel Dimmock (Engeland) ná die eerste twee rondes van die LPGA-toernooi vir vroue wat in die suidweste van Frankryk beslis word.

Cassandra Hall (146) is verder terug, asook Lejan Lewthwaite en Monique Smit (albei 148).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.